Potchefstroomse tiener slaan haar eerste pro-titel in Frankryk los
Jahnie van Zyl het daarin geslaag om ná ’n taai eerste stel behoorlik terug te veg om die W15 Cap d'Agde 2026 tennistoernooi te wen.
Die 17-jarige Potchefstroomse tennisspeler Jahnie van Zyl het Saterdag (5 September) haar eerste professionele enkelspeltitel by die W15 Cap d’Agde 2026 tennistoernooi in Frankryk verower, berig Potchefstroom Herald.
Jahnie, wat as die agtste gekeurde speler in die toernooi was, het die Tsjeggiese Michaela Bayerlová (28) in die eindstryd met 7-5, 6-0 op die kleibaan geklop. Bayerlová is tans 883ste op die wêreldranglys en het voorheen ’n loopbaanbeste posisie van 317 bereik.
Die oorwinning het gekom ná ’n indrukwekkende terugvegpoging in die eerste stel. Jahnie het amper ‘klei getrap’ en was 5-3 agter. Sy het teuggeveg om 10 agtereenvolgende potte te wen om die stel met 7-5 te beklink. Sy het daarna die tweede stel oorheers en Bayerlová met 6-0 afgeransel.
Jahnie se pad na die titel was ewe indrukwekkend. Sy het die toernooi verlede Dinsdag (1 September) begin met ’n 6-1, 6-3-oorwinning oor Emira Diabate. In die tweede ronde het sy Hajar Crinebouch met 6-3, 6-0 geklop voordat sy in die kwarteindronde die derde gekeurde Marta Soriano Santiago met 6-2, 6-3 uitgeskakel het.
In die halfeindronde moes Van Zyl hard werk om Romane Longueville van België te klop. Sy het die eerste stel met 6-3 gewen, die tweede met 6-4 verloor, maar daarna teruggeveg om die beslissende stel met 6-1 te wen.
Vir dié oud-leerder van Laerskool Mooirivier en Potchefstroom Gimnasium beteken die titel dat sy nou haar eerste professionele trofee op haar kerfstok het – en dit op ’n oppervlak waarop sy vanjaar besonder goed gevaar het. Haar 2026-rekord op die kleibaan staan ná die Cap d’Agde-toernooi op sewe oorwinnings teenoor twee nederlae.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.



