Die Potchefstroomse tennisspeler, Jahnie van Zyl, het haar eerste professionele tennistitel verower toe sy die Cap d’Agde tennistoernooi in die Suide van Frankryk op 5 September gewen het.
Van Zyl (17), ‘n oud-Laerskool Mooirivier en Potchefstroom Gimnasium-leerder, het vir Michaela Bayerlová van Czechia met 7-5, 6-0 op klei geklop. Bayerlová is tans 883ste op die wêreldranglys en was voorheen in die top 400 gekeur.
Van Zyl het amper klei getrap in die eerste stel en was op ‘n stadium 3-5 agter, maar her teuggeveg om 10 agtereenvolgende potte te wen en die tweede stel met 6-0 te verower.
Die oud-Tokkie is tans 1054de in die wêreld en hierdie titel op klei sal vir haar baie selfvertroue gee vorentoe aangesien sy ‘n groot mylpaal behaal het.



