Lifestyle

Rubriek: Gepraat van … wanneer mens se hoopmeter in die rooi draai

Ek kan nie my kind sien nie, ek kan nie my familie sien nie, ek kan nie by my skoolvriendin gaan kuier nie.

Toe die vlak vier grendeltydperk op 28 Junie in werking tree, het ek vir myself gesê: “Dis oukei, ek kan vir twee weke uithou.”

Want sien, op daardie stadium het ek, en eintlik ons almal, geglo (en gehoop!) dit gaan net vir twee weke wees.

Ek het toe reeds my naaste familie vir ’n maand lank nie gesien nie.

Twee van hulle het Covid-19 opgedoen. Ek kon nie meer gaan stap op Sondagoggende saam my stapgroep nie, want dit is toe nou ook gekanselleer. Ook kon ek nie by vriende gaan kuier nie.

Intussen kanselleer die lugredery waarmee ek vlugbesprekings gehad het ook hul vlugte en ek begin wonder of ek nou weer eens tot einde van die jaar gaan moet wag voordat ek saam met my kind kan kuier.

My dogter praat my moed in en sê ons hou nog so bietjie uit, kom ons kyk wat gebeur.

Toe die president op 11 Julie sê ons gaan nog ’n verdere twee weke in vlak vier wees toe kan my hoopmeter nie meer nie en hy daal, net soos my petroltenk se hoeveelheid, tot diep binne in die rooi.

Ek huil snot en trane. Ek kan nie my kind sien nie, ek kan nie my familie sien nie, ek kan nie by my skoolvriendin gaan kuier nie. Ek word so siek ek kan nie asemhaal nie, maar gelukkig is dit net boonstelugweginfeksie.

LEES OOK: Rubriek: Gepraat van … ’n Yskastert vir my verjaarsdag

Ek gaan vir my eerste Covid-inenting en word vreeslik siek daarvan. Om alles te kroon, beleef ons ysige koue ook nog. Die onluste in Gauteng en KZN help ook nie my gemoed nie.

Ek kry koud, my hart is seer en ek is kwaad vir hierdie virus.

Toe ons op 25 Julie weer kan terugkeer na ’n effense beter vlak drie toe huil ek weer snot en trane. Ek en my kind verander my vliegtuigkaartjies.

Ek gaan drink koffie saam ’n vriendin en ons eet ’n groot stuk koek om my verjaarsdag te vier.

My hoopmeter styf effens.

My oom en tante herstel nog van Covid, maar nie meer lank nie, dan kan ek hulle ook weer sien.

’n Ander skoolvriendin word ouma vir die eerste keer. Dis ’n nuwe lewe! ’n Perfekte klein seuntjie deur God geskape. My hoopmeter styg.

Waar daar lewe is, is daar altyd hoop.

Ilse Watson is a subredakteur by Caxton Local Media.

LEES OOK: Rubriek: Gepraat van … ’n Mini-oorlog het rondom my uitgebreek

   

Related Articles

 
Back to top button