Lifestyle

Versorg jou voete: Wat jy moet weet

Jou voete kan om verskeie redes seer raak en ongesond lyk. Lees meer oor die moontlike verskynsels en hoe om dit op te los.

 

Plantar fasciitis

As jy ’n ongelooflike skerp pyn onder jou voet van jou hak na jou tone het, het jy moontlik bitter seer inflammasie van die plantar fascia, die weefsel wat jou hakbeentjies na jou voorvoet trek en jou voetbrug se hoogte bepaal.

• Wie sukkel daarmee?

Marthie Hauptfleisch, voetverpleegspesialis van Stellenbosch, sê die drawwers en mense wie se skoensole nie hul voetbrug ondersteun nie, het beslis die meeste pyn. Maar as jy op ’n staptog gegaan het en ongewoon ver en baie afdraand gestap het, kan jou voete ook kla. En verwag fasciitis as jy ver langs die see in sagte plakkies stap. “Die pyn is gewoonlik die ergste soggens as jy opstaan, as jy ’n rukkie staan, trappe klim, of ná jy baie gestap het, soos ná ’n dag in die winkels, of ná gim.”

• Planne

Drink ’n anti-inflammatoriese pynpil soos ibuprofen. “En begin met oefeninge wat die probleem regstel deur die tendons en spiere onder jou voete geleidelik te strek. Al wat jy moet doen, is om soggens voor jy uit die bed wip jou voete te rol, punt en terug te trek so ver as wat jy kan. Hierdie oefeninkies is beslis makliker as chirurgie. Dit kan tot ’n jaar neem voor dit werk – hou net aan daarmee.”

As dit nie help nie, laat ’n podiater voetstutte in jou skoene inbou om jou brug beter te ondersteun.

Lees ook: Die beste raad vir voetswamme

Morton se neuroom

Dit voel asof jy op ’n albaster, klippie of lemmetjies trap, meestal tussen jou derde en vierde toon. Of die bal van jou voet brand, voel dood, of soos naalde en spelde terwyl jy loop en staan, veral in hoëhakskoene. Dit word veroorsaak deur ’n klein, goedaardige vergroeiing in die vasgeknypte senuwees.

• Planne

’n Kortisooninspuiting verlig die pyn gou maar jy het eintlik breër, platter skoeisel nodig waarin jou voetbene kan uitsprei, met genoeg ruimte vir die senuweetjies. ’n Pediatriese stut wat jou voetbene laat uitsprei, werk ook. As dit nie help nie, laat ’n ortopeed kyk en besluit oor verdere inspuitings of chirurgie.

Lees ook: Kruie vir jou voete

Hamertone en knokkels

Smal skoene laat jou voete elegant lyk, maar hulle druk jou tone op sodat hul spiere nie voluit strek nie. Hulle verkort mettertyd, en trek nou jou tone in ’n abnormale posisie, selfs al is jy kaalvoet. Die gevolg is knokkels waar die been iewers heen moet uitwyk, hamertone, kloutone en eelte op die weefsel wat gedruk word.

• Planne

Mooi skoene is ’n groot plesier en deel van ’n professionele voorkoms. Maar wees slim, veral in jou twintigs en dertigs, en hou ’n paar gemaklike skoene byderhand. Bestuur daarmee en dra dit wanneer jy daarmee kan wegkom sonder om image in te boet. Dit help baie as jy net saans tuis kaalvoet of in pantoffels loop sodat jou spiere strekkans kry.

Lees ook: Seer voete: Het jou voetkussinkies te min vet?

Die artikel Versorg jou voete – wat jy moet weet het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

Back to top button