Lifestyle

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

Een van die grootste foute wat jy kan maak, is om nie vir jou aftrede te beplan nie.

Lizl Budhram, hoof van advies by Old Mutual, sê sy sien gereeld hoe mense oë toeknyp en hoop op die beste. “Baie mense dink hul kinders sal na hulle omsien. Of hulle glo dat hul groot huis ’n goeie bate is wat hulle heelwat los kapitaal gaan gee wanneer hulle na ’n kleiner blyplek in ’n aftree-oord verhuis. Helaas, kinders is nie altyd in die posisie om na jou om te sien nie, en hulle het ook hul eie lewe om te lei. ’n Kleiner plek in ’n aftree-oord is soms duurder as jou groot vrystaande huis en kan jou ekstra uit die sak jaag as jy nie aan lewenstyl wil inboet nie.”

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

iStock/izusek

Hier is nog ’n paar foute waarvoor almal moet oppas.

Fout 1: Julle beplan nie die detail nie

Maak seker jy verstaan wat jy gaan nodig hê. Wees spesifiek in waar jy beoog om te woon, wat inflasie aan jou kapitaal gaan doen, en wat jou lewenstyl gaan kos. Kyk of jou huidige aftreevoorsiening in jou behoeftes gaan voorsien.

Lees ook: Tree op voor jy aftree

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

iStock/PeopleImages

Fout 2: Jy spaar nie genoeg nie

Baie mense hoop hul pensioenfonds gaan genoeg wees en spaar glad nie vir hul oudag nie. As jy reeds afgetree het en met ’n skok besef dat jy nie genoeg gespaar het nie, is jy nie alleen nie. Lizl sê daar is steeds dinge wat jy kan doen om jou situasie te verbeter. As jy in ’n posisie is om langer te werk of ’n tweede beroep te vestig, is dit ’n goeie idee. As jy nie langer kan werk nie, moet jy die meeste maak van die geld wat jy het. Hier is ’n goeie finansiële adviseur onmisbaar om jou leiding te gee, en ook om jou kalm te laat voel oor die kapitaal wat jy het. Mense raak so paniekerig oor hul situasie dat dit hul gesondheid kan benadeel.

Lees ook: Kan jy bekostig om af te tree?

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

pixabay

Fout 3: Jy maak nie die regte keuse oor jou pensioenfonds nie

Daar is hoofsaaklik twee tipes inkomste-annuïteite wat met jou pensioenfonds se kapitaal aangekoop kan word: gewaarborgde annuïteit en leeftyd-annuïteit.

  • Gewaarborgde annuïteit bied jou ’n lewenslange gewaarborgde inkomste, wat gelykblywend kan wees, of eskaleer saam met inflasie. As jy en jou gade sterf, word die betalings gestaak. Dis ’n veilige opsie, maar bied gewoonlik ’n betreklike lae inkomste en jou kinders kan meestal niks erf nie. Selfs al sou jy vroeg sterf en bitter min van die pensioengeld gebruik het, kan jou begunstigdes steeds niks erf nie.
  • ’n Leeftyd-annuïteit is wanneer jy al jou pensioengeld belê en van die opbrengs leef. Hier is meer risiko, want die groei en dus jou inkomste, is afhanklik van die markte, maar as jou beleggings goed doen, het jy heelwat meer beskikbare kapitaal. Dis ook ’n aantreklike opsie, want daar is erfgeld vir jou kinders. Die voordeel is dat jy enige tyd kan omskakel van ’n leeftyd-annuïteit na ’n gewaarborgde annuïteit, maar nie andersom nie.

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

iStock/Anchiy

Fout 4: Jy verstaan nie hoe jou geldsake werk nie

Maak seker jy is op die hoogte van jou finansies. Werk met mense wat moeite doen en presies verstaan wat jou behoeftes is. As jou gade gewoonlik met jul geld werk, is dit noodsaaklik dat jy saamgaan vir die besprekings met die finansiële adviseur. Afhangend van hoe jul pensioen gestruktureer is, kan dit soms net betaal tot die hooflid sterf.

Lees ook: Gemoedsrus

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

iStock/Rostislav_Sedlacek

Fout 5: Jy onttrek groot bedrae uit jou leeftyd-annuïteit

Besin oor hoeveel geld jy jaarliks uit jou leeftyd-annuïteit gaan trek. As jy te veel onttrek, kan jou kapitaal verminder en dus ook jou inkomste. Jou kapitaal kan soms selfs heeltemal opraak. Ingevolge wetgewing kan jy tussen 2,5% en 17% per jaar uit jou leeftyd-annuïteit trek. Mense trek geld om hul lewenstyl aan te vul maar dan is daar die moontlikheid dat jy jou kapitaal uitput.

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

iStock/Poike

Fout 6: Jy bestuur nie jou risiko nie

Te veel risiko kan jou ruïneer, maar te min risiko kan maak dat inflasie jou ruïneer. Lizl waarsku dat inflasie jou koopkrag elke sewe jaar byna halveer. Dus, as jy spaargeld het waarvan die waarde nie styg soos inflasie toeneem nie, gaan jy ná sowat sewe jaar 50% minder daarmee kan koop. Boonop leef ons langer, maar met heelwat duur mediese ingrypings. Mediese fondse dek nie alle uitgawes ten volle nie en het ook beperkings op duur kankerbehandelings. Hier is ’n goeie finansiële beplanner goud werd.

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

iStock/JohnnyGreig

Fout 7: Jy weet nie watter uitwerking die dood van jou gade het nie

Sommige pensioenfondse betaal steeds die langslewende gade as een sterf, maar ander betaal net solank die hooflid leef.

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

iStock/Tinpixels

Fout 8: Jy skuld geld

Beplan betyds om jou huis en voertuie voor aftrede af te betaal. Dis ’n meulsteen om jou nek wat jou pensioengeld gaan knou.

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

pixabay

Fout 9: Jy bestuur nie jou belasting nie

Dit is belangrik om advies in te win, want elkeen se situasie is uniek. Soms kan dit tot jou voordeel strek om ten tyde van jou aftrede ’n enkelbedrag kontant uit jou pensioengeld te trek om skuld af te betaal omdat die belasting wat jy daarop betaal minder kan wees as die rente wat jy op die skuld betaal. Maar dis uniek aan elke situasie en jy het die advies van ’n kenner nodig.

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

iStock/mphillips007

Fout 10: Jy onderhou jou volwasse kinders

Ouers wil hul kinders graag help, maar dink mooi voor jy pa staan vir verdere studie of ander groot uitgawes van jou volwasse kinders. Jy benadeel jou langtermynsekuriteit en oor 10 of 15 jaar sit jy dalk in ’n geldelike verknorsing en die kinders kan of wil nie help nie.

Só verseker jy ’n sorgelose aftrede

iStock/GeorgeRudy

Raad: Kies só ’n goeie finansiële adviseur

Lizl sê as die adviseur tyd aan jou situasie bestee en moeite doen om vas te stel wat jou behoeftes is en seker maak dat jy alles verstaan, is dit klaar ’n goeie beginpunt. Dis ook beter as jy vroeg in jou lewe al ’n adviseur kry sodat jy hom/haar vertrou en al ’n pad saam gestap het. Dis ook noodsaaklik om betrokke te raak en eienaarskap van die beplanning te neem. Moenie bang wees om te vra wat die adviseur se fooi is en watter dienste hy daarvoor lewer nie. Vra ook wat die persentasiefooi se randwaarde per jaar is.

Lees ook: Vaal huwelik? Ja, jy kan joune red

Die artikel Só verseker jy ’n sorgelose aftrede het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

 
Back to top button