2 in hof verwag ná moord op egpaar in Rustenburg
Vier dae ná die koelbloedige moord van 'n Rustenburgse egpaar, het die daelange soektog van die polisie uiteindelik gelei tot arrestasies.
Twee verdagtes sal vandag in die Rustenburgse landdroshof verskyn in verband met die moord op ‘n egpaar wat Saterdag koelbloedig op die parkeerterrein van ‘n winkelsentrum doodgeskiet is.
Parys Gazette berig knap speurwerk het tot die arrestasies gelei vier dae ná die moord op George en Wilma Koster van Rustenburg.
Die twee mans wat in verband met die moorde gearresteer is, is onderskeidelik 29 en 41 jaar oud, en is in Boitekong en Rustenburg vasgetrek, het polisiewoordvoerder Kolonel Adéle Myburgh gesê.
Die polisie het met die inhegtenisname beslag gelê op ‘n vuurwapen wat vermoedelik vir die moorde gebruik is, asook ‘n Kia Rio voertuig, het Myburgh gesê.
Die egpaar is Saterdagmiddag in die parkeerterrein doodgeskiet na vermoedelik ‘n onderonsie tussen die Koster-egpaar en die insittendes van die Kia Rio. Die Kia Rio was langs die Kosters se voertuig geparkeer, maar het nie nommerplate gehad nie.
George was 68 jaar oud, en Wilma 65.
‘n Gedenkdiens vir die egpaar word Saterdag gehou.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za