Deurbraak ná egpaar se skietdood
Vier dae na die koelbloedige moord van 'n Rustenburgse egpaar, het die daelange soektog van die polisie uiteindelik gelei tot arrestasies.
Twee verdagtes is danksy knap speurwerk vasgetrek vir die moord op George en Wilma Koster van Rustenburg wat Saterdag koelbloedig op die parkeerterrein van ‘n winkelsentrum doodgeskiet is.
Die twee mans wat Dinsdag vir die moorde gearresteer is, is 29 en 41 jaar oud onderskeidelik, en is in Boitekong en Rustenburg vasgetrek, het polisiewoordvoerder kolonel Adéle Myburgh gesê. Hulle sal môre in die Rustenburgse landdroshof verskyn vir die moord op die Koster-egpaar.
Die polisie het met die inhegtenisname ook beslag gelê op ‘n vuurwapen wat vermoedelik vir die moorde gebruik is, asook ‘n Kia Rio voertuig, het Myburgh gesê.
Die egpaar is Saterdagmiddag in die parkeerterrein doodgeskiet na vermoedelik ‘n onderonsie tussen die Koster-egpaar en die insittendes van die Kia Rio. Die Kia Rio was langs die Kosters se voertuig geparkeer, maar het nie nommerplate gehad nie.
George was 68 jaar oud, en Wilma 65.
‘n Gedenkdiens vir die egpaar word Saterdag gehou.



