2 lewenslank gevonnis vyf jaar ná wrede moord op Vrystaatse boer
Ná deeglike speurwerk is die moordenaars van ’n Vrystaatse boer uiteindelik tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Twee mans wat in Oktober 2020 ’n boer buite Viljoenskroon vermoor het, is Vrydag in die Kroonstad-streekhof, presies vyf jaar na die wrede moord, elk tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Die beskuldigdes, William Sejane (57), ook bekend as Maidudu, en Lucky Motaung (54), ook bekend as Sebothe, is albei skuldig bevind aan moord en huisroof, en sal hul lewenslange vonnis vir die moord, en sewe jaar gevangenisstraf vir die huisroof gelyklopend uitdien.
Parys Gazette berig Sejane en Motaung het die 66-jarige Dave Wessels op 3 Oktober 2020 in sy plaashuis aangeval nadat hulle deur ’n venster toegang tot die huis gekry, en hom oorweldig het. Hy is gekry met sy hande en voete vasgebind en sy kop in plastiek toegedraai, wat ook sy dood veroorsaak het. Sy wit Toyota-bakkie en verskeie huishoudelike items is tydens die voorval gesteel.
Knap speurwerk lei tot arrestasies
Sersant Morena Machalotsa van die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad was die ondersoekbeampte en is die gesteelde voertuig danksy knap speurwerk by ’n werkswinkel in Orkney opgespoor, terwyl die slagoffer se bankkaart die polisie gelei het na transaksies wat in Orkney, Klerksdorp en Potchefstroom gedoen is.
Sekuriteitsbeeldmateriaal het Motaung aan die aankope verbind, wat tot sy inhegtenisneming gelei het. Sy medebeskuldigde, Sejane, is daarna ook gearresteer. Daar is vasgestel dat hy slegs sestien maande tevore op parool vrygelaat is nadat hy ’n lewenslange vonnis vir ’n soortgelyke misdaad uitgedien het.
Die provinsiale kommissaris van die Vrystaat, luitenant-generaal Baile Motswenyane, het die speurder en alle betrokke rolspelers vir hul toewyding geloof. Sy het beklemtoon dat hierdie vonnisse ’n duidelike boodskap stuur dat dié wat gewelddadige misdade pleeg, die volle mag van die gereg in die gesig sal staar.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za