2 vermeende bloulig-rowers sterf ná skietery in die Vrystaat
Verdagtes geklee in polisie-uniforms wat glo betrokke is by bloulig-rooftogte op paaie tussen Gauteng en die Vrystaat is dood ná 'n jaagtog en skietery.
Twee vermeende bloulig-rowers is gister noodlottig gewond op dieselfde pad waar hulle klaarblyklik onder die voorwendsel dat hulle polisiebeamptes is, ‘n skrikbewind gevoer het.
Parys Gazette berig die verdagtes was volgens voorlopige ondersoeke betrokke by bloulig-rooftogte wat op die R59 en ander paaie tussen Gauteng en Vrystaat plaasgevind het. Hulle het hulle slagoffers gekaap en vir ure ontvoer terwyl bedrae geld uit die slagoffers se bankrekeninge onttrek is, sê polisiewoordvoerder Kolonel Dimakatso Nevhuhulwi.
’n Span van verskeie polisie-eenhede in Gauteng, insluitend die Taktiese Reaksiespan, speurders, die teenintelligensie-eenheid en private sekuriteitsmaatskappye, het die inligting opgevolg van ’n VW Golf 7 wat by die bloulig-rooftogte betrokke was. Die span het hulself strategies geposisioneer en hommeltuie is ingespan in die soektog na die voertuig wat op die R59-pad opgemerk is. Die voertuig was toegerus met blou ligte.
Toe die polisie probeer het om die voertuig af te trek, het die verdagtes weggejaag, wat gelei het tot ’n jaagtog en skietgeveg tussen die verdagtes en die polisie.
Die verdagtes het beheer oor die voertuig verloor en die voertuig is deur ‘n heining langs die R59 waar dit in die veld tot stilstand gekom het sowat 1km vanaf die Truck Stop in die rigting van Sasolburg in die Vrystaat.
Twee verdagtes, geklee in polisie-uniforms, is dood in die voertuig aangetref, terwyl nog twee verdagtes daarin geslaag het om te vlug van die toneel.
Die polisie het beslag gelê op die Golf waarmee die verdagtes gery het, sowel as twee ongelisensieerde vuurwapens met ammunisie, SAPD-uniforms met kentekens, blou ligte, sirenes en vervalste registrasienommers. Daar is vasgestel dat die Golf gedurende September in Viljoensdrift gesteel is.
Nevhuhulwi sê die polisie sal voortgaan om hulle pogings te verskerp om hierdie rooftogte te bekamp.
Die publiek is weer gewaarsku om nie in geïsoleerde gebiede stil te hou nie, maar eerder na die naaste polisiekantoor of vulstasie te ry. Enige kriminele aktiwiteite kan by die Stop Misdaad-lyn aangemeld word by 08600 10111.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za