Twee vermeende bloulig-rowers sterf ná skietery op R59
Die twee verdagtes wat noodlottig gewond is, was geklee in polisie-uniform en het ook blou ligte en polisie-kentekens in hul besit gehad.
Twee vermeende bloulig-rowers is gister noodlottig gewond op dieselfde pad waar hulle klaarblyklik onder die voorwendsel dat hulle polisiebeamptes is, ‘n skrikbewind gevoer het. Die verdagtes was volgens voorlopige ondersoeke betrokke by bloulig-rooftogte wat op die R59 en ander paaie tussen die Gauteng- en Vrystaat-provinsies plaasgevind het. Hulle het hul slagoffers gekaap en vir ure ontvoer terwyl bedrae geld uit die slagoffers se bankrekeninge onttrek is, sê kolonel Dimakatso Nevhuhulwi.
’n Span van verskeie polisie-eenhede in Gauteng, insluitend die Taktiese Reaksiespan, speurders, die teenintelligensie eenheid, en private sekuriteitsmaatskappye, het die inligting opgevolg van ’n VW Golf 7-voertuig wat by die bloulig-rooftogte betrokke was. Die span het hulself strategies geposisioneer en is ook hommeltuie ingespan in die soektog na die voertuig wat op die R59-pad opgemerk is. Die voertuig was toegerus met blou ligte.
Toe die polisie probeer het om die voertuig af te trek, het die verdagtes weggejaag, wat gelei het tot ’n hoëspoed agtervolging en skietgeveg tussen die verdagtes en die polisie.
Die verdagtes het beheer oor die voertuig verloor en is die voertuig deur ‘n heining langs die R59 waar dit in die veld tot stilstand gekom het sowat 1km vanaf die Truck Stop in die rigting van Sasolburg,
Twee verdagtes, geklee in polisie-uniforms, is dood in die voertuig aangetref, terwyl nog twee verdagtes daarin geslaag het om te vlug van die toneel.
Die polisie het beslag gelê op die Golf waarmee die verdagtes gery het, sowel as twee ongelisensieerde vuurwapens met ammunisie, SAPD-uniforms met kentekens, blou ligte, sirenes en vervalste registrasienommers. Daar is vasgestel dat die Golf gedurende September in Viljoensdrift gesteel is.


Kolonel Dimakatso Nevhuhulwi sê die polisie sal voortgaan om hul pogings te verskerp om hierdie rooftogte te bekamp.

Die publiek is weer gewaarsku om nie in geïsoleerde gebiede stil te hou nie, maar eerder na die naaste polisiekantoor of vulstasie te ry. Enige kriminele aktiwiteite kan by die Misdaad Stoplyn aangemeld word by 08600 10111.



