23 sterf op Vrystaatse paaie oor die naweek
In een van die botsings gister, waarin 10 mense dood is, was die N1-hoofweg tussen Heuningspruit en Koppies vir ure gesluit.
Drie-en-twintig mense, waaronder ‘n nege-jarige kind, is die naweek in ses afsonderlike ongelukke in die Vrystaat dood.
Die eerste noodlottige ongeluk van die naweek was reeds Vrydagaand met ‘n kop-aan-kop botsing tussen ‘n motor en ‘n vragmotor op die N3 naby Balmoral.
Ses mense insluitend ‘n kleuter en die vragmotorbestuurder is op die toneel dood verklaar, terwyl een persoon van die toneel per ambulans na die Thebe-hospitaal naby Harrissmith vervoer is.
Saterdagoggend het ‘n motorfietsryer op die ou Brandfort-pad naby Winburg gesterf toe die motorfiets ‘n bees getref het.
‘n Ongeluk tussen twee dubbelkajuitbakkies het Saterdagnag drie lewens op die R30 tussen Allanridge en Odendaalsrus, ge-eis.
Onder die oorledenes was ‘n nege-jarige dogtertjie wat op die toneel gesterf het, en twee mans wat met hul aankoms by die hospitaal aan hul beserings beswyk het.
Die N1-hoofweg tussen Heuningspruit en Koppies was Sondagoggend vir ure gesluit nadat tien mense in ‘n gru-botsing gesterf, en een ernstig beseer is in ‘n ongeluk tussen ‘n vragmotor en ‘n minibus taxi.
Onder die oorledenes was sewe vroue en drie mans, het Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gesondheid gesê.
Beide voertuie het in ‘n noordelike rigting beweeg toe die Quantum minibus met 11 insittendes van agter teen die vragmotor, sowat 20km voor die Koppies-afrit, gebots het. Net die vragmotorbestuurder en een van die insittendes van die taxi het die ongeluk oorleef.
Die pad is Sondagmiddag net na 14:00 weer oopgestel vir verkeer.
Vanoggend is nooddienste na ‘n botsingstoneel tussen Brandfort en Theunissen ontbied waar ‘n voertuig omgeslaan het. ‘n Man is op die toneel dood verklaar, en ‘n ander per ambulans na die Katlego-hospitaal vervoer.
Die provinsie se waarnemende premier, Jabu Mbalula, het gesê die hartverskeurende tragedies wat gelei het tot die lewensverlies van meer as 20 mense op die provinsie se paaie in so ‘n kort tydperk, is kommerwekkend.
“Elke lewe wat verloor word, is een té veel,” het Mbalula gesê.
“Ons kan nie die belangrikheid van padveiligheid genoeg beklemtoon nie. Elke motorbestuurder en voetganger moet die padreëls respekteer en met groot versigtigheid te alle tye bestuur. Dit is die enigste manier hoe ons hierdie tragedies kan voorkom, en kan seker maak dat elkeen veilig by sy bestemming kom,” het Mbalula gesê.
‘n Beroep is op mense gedoen wat oor die feestyd gaan reis om genoeg te rus, seker te maak hul motors word instand gehou en om nie roekeloos te bestuur nie.
Read original story on www.citizen.co.za