Local newsNews

Meer as 20 sterf net die naweek op VS paaie

Gru-botsing op N1 eis tien lewens

Drie en twintig mense is die naweek aan die begin van die feesseisoen in ses afsonderlike ongelukke in die Vrystaat dood.

Die N1-hoofweg tussen Heuningspruit en Koppies was Sondagoggend vir ure gesluit nadat tien mense in ‘n gru-botsing gesterf, en een ernstig beseer is in ‘n ongeluk tussen ‘n vragmotor en ‘n minibus taxi.

Onder die oorledenes was sewe vroue en drie mans, het Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gesondheid gesê.

Beide voertuie het in ‘n noordelike rigting beweeg toe die Quantum minibus met 11 insittendes van agter teen die vragmotor sowat 20km voor die Koppies-afrit gebots het. Net die vragmotorbestuurder en een van die insittendes van die taxi het die ongeluk oorleef.

Die minibus taxi waarvan tien van die elf insittendes Sondagoggend in ‘n gru-botsing op die N1-hoofweg buite Koppies gesterf het.

Die pad is Sondagmiddag net na 14:00 weer oopgestel vir verkeer.

Vanoggend is nooddienste na ‘n botsingstoneel tussen Brandfort en Theunissen ontbied waar ‘n voertuig omgeslaan het. ‘n Man is op die toneel dood verklaar, en ‘n ander per ambulans na die Katlego-hospitaal vervoer.

Die kantoor van die Vrystaatse premier het in reaksie op die groot aantal padsterftes in die provinsie oor die naweek gesê dat die tragedie hiervan die belangrikheid van bewustheid rondom padveiligheid en padreëls wat gehoorsaam moet word, beklemtoon.

Die eerste noodlottige ongeluk van die naweek was reeds Vrydagaand met ‘n kop-aan-kop botsing tussen ‘n motor en ‘n vragmotor op die N3 naby Balmoral. Ses mense insluitend ‘n kleuter en die vragmotorbestuurder is op die toneel dood verklaar, terwyl een persoon van die toneel per ambulans na die Thebe-hospitaal naby Harrissmith vervoer is.

Saterdagoggend het ‘n motorfietsryer op die ou Brandfort-pad naby Winburg gesterf toe die motorfiets ‘n bees getref het.

‘n Ongeluk tussen twee dubbelkajuitbakkies het Saterdagnag  drie lewens op die R30 tussen Allanridge en Odendaalsrus, ge-eis. Onder die oorledenes was ‘n 9-jarige dogtertjie wat op die toneel gesterf het, en twee mans wat met hul aankoms by die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Die provinsie se waarnemende premier, Jabu Mbalula, het gesê die hartverskeurende tragedies wat gelei het tot die lewensverlies van meer as 20 mense op die provinsie se paaie in so ‘n kort tydperk, is kommerwekkend. “Elke lewe wat verloor word, is een té veel,” het Mbalula gesê.  DIe provinsiale regering het sy opregte medelye teenoor die naasbestaandes van die oorledenes uitgespreek, en die beseerdes spoedige beterskap toegewens.

“Ons kan nie die belangrikheid van padveiligheid genoeg beklemtoon nie. Elke motorbestuurder en voetganger moet die padreëls respekteer en met groot versigtigheid te alle tye bestuur. Dit is die enigste manier hoe ons hierdie tragedies kan voorkom, en kan seker maak dat elkeen veilig by sy bestemming kom,” het Mbalula gesê.

‘n Beroep is op mense gedoen wat oor die feestyd op die pad sou gaan om genoeg te rus, seker te maak hul motors is instand  gehou en om hulle nie skuldig te maak aan roekelose bestuur nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button