3-jarige sterf in fratsongeluk ná baksteenpilaar in Oudtshoorn ineenstort
’n Taxibestuurder van Bongolethu in die Wes-Kaap was net ’n straat van sy huis af toe sy seun hom met die ondenkbare nuus bel dat sy jongste dogtertjie dood is.
“Niemand verwag dat jy jou pragtige 3-jarige dogtertjie by die huis los en vier ure later ’n oproep kry waarin iemand jou laat weet sy is dood nie,” sê ‘n gebroke pa ná ‘n fratsongeluk in Bongolethu waar hulle woon, sy kind geëis het.
Henry Rhodes, ’n taxi-bestuurder van díé informele nedersetting sowat 10 kilometer buite Oudtshoorn in die Wes-Kaap, moet nou met die wrede werklikheid worstel nadat ’n baksteenpilaar Maandagoggend (6 Julie) op sy dogter, Dianielle, geval het, berig Oudtshoorn Courant.
Hy was besig om passassiers te vervoer toe sy 14-jarige seun, Jonty, hom gebel het.
“Ek was in ’n straat agter ons huis toe hy my bel en sê dat Danielle in ’n ongeluk was en dood is,” vertel Rhodes.
Die grensmuur se baksteenpilaar het sonder waarskuwing ineengestort terwyl Dianielle en haar 4-jarige sussie, Washiefa, buite gespeel het.
Volgens Rhodes het die pilaar sy jongste dogtertjie teen die kop getref.
Die kinders se ma, Jennifer, was ten tyde van die voorval binne die huis.

“Jonty was saam met hulle buite en het alles sien gebeur. Jennifer het uitgehardloop toe sy die geskreeu hoor,” vertel Rhodes.
“Toe ek die oproep kry, het ek die taxi net daar gelos en huis toe gehardloop,” vertel Rhodes. “Ons het haar dadelik na die Bongolethu-kliniek geneem omdat dit die naaste was, maar sy was waarskynlik reeds met aankoms oorlede.”
Vir die Rhodes-familie laat Dianielle se dood ’n groot leemte.
Haar pa beskryf haar as ’n vrolike, liefdevolle kind. “Sy het ons elke dag laat lag en almal om haar pinkie gedraai. Haar ouma, Leentjie Roman, wat bedags na haar gekyk het, moes gereeld winkel toe loop om lekkers vir haar te koop. Hulle twee was boesemvriende.”
Hy vertel ook van ’n gesprek wat hom altyd sal bybly: “Saterdag was ons saam by ’n begrafnis. Sy het na my toe gekom en gesê: ‘Pappa, die mense sing heeltyd my liedjie.’ Sy het verwys na As die verlostes huis toe gaan. Dalk het sy haar reeds voorberei om voor ons huis toe te gaan.”
Dianielle se ma, Jennifer, sukkel steeds om die tragedie te verwerk. “Ek gaan my baba verskriklik mis,” sê sy.
Die familie moes Dianielle se liggaam vroeër die week formeel uitken en beplan om haar volgende week te begrawe.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za