4 mans in Polokwane-hof ná noodlottige plaasaanval in 2022

Die vier mans wat van moord aangekla is nadat die 35-jarige Nicky Janse van Rensburg van Roedtan doodgeskiet is, verskyn vandag in die hof.

Albert Mangena, Malesela Mangena, Lesiba Solly Segwale en Morwantsiri Justice Mashiane se verhoor vind van vandag tot 7 Junie in die hooggeregshof in Polokwane plaas.

Die vier mans staan tereg op klagtes van moord ná die 35-jarige Nico ‘Nicky’ Janse van Rensburg van Roedtan op Vrydagmiddag, 7 Oktober 2022, op die plaas Derdekraal in die Roedtan-omgewing aangeval is. Die rowers het ’n tienerseun wat ook op die plaas gewoon het aangehou terwyl hulle Janse van Rensburg en sy vriendin, Veronica Grobler, ingewag het. Janse van Rensburg is tydens ’n struweling geskiet.

Daar is nie borgtog aan die verdagtes toegestaan na die laaste verdagte se hofverskyning op 17 Mei nie.

Plaasaanvalle onder loep

Die burgerregte organisasie, AfriForum, het onlangs gesê dat daar bykans een plaasmoord elke week was in 2023. Die totale aantal plaasaanvalle vir die tydperk is 296.

“Dít terwyl die Suid-Afrikaanse regering anderpad kyk en aan die vooraand van die nasionale verkiesing besluit het om nie die jongste misdaadstatistiek bekend te stel nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van 2023/2024 moes verlede week bekendgestel geword het, maar dit blyk dat die ANC-regering nie so kort voor die verkiesing kans sien om die ware feite wat uit die statistiek na vore kom, in die oë te kyk nie,” het hulle in ’n persverklaring gesê.

AfriForum se jongste jaarlikse verslag oor plaasaanvalle en -moorde is op verlede Maandag in Centurion bekendgestel. Volgens hulle verslae is daar 49 plaasmoorde verlede jaar gepleeg.

Die organisasie het die polisie daarvan beskuldig dat hulle nie die nodige aandag aan plaasmoorde gee wat nodig is nie.

AfriForum het gesê dat hulle die toekenning van hulpbronne aan die Nasionale Vervolgingsgesag vir ondersoeke na sekere ernstige en georganiseerde misdade, oftewel prioriteitsmisdade, volg. Transito-rooftogte, onwettige mynbou en polities gemotiveerde moorde is van die misdade waarvoor spesiale ministeriële taakspanne vir die voorkoming en ondersoekdoeleindes saamgestel is.

“’n Gespesialiseerde benadering tot unieke misdade moet verwelkom word,” het Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, gesê. Hulle het egter vrae oor waarom die regering weier om dieselfde benadering met plaasaanvalle en -moorde te volg. “In sekere gevalle is die voorkoms van plaasaanvalle en -moorde veel hoër, meer gewelddadig en vereis ’n veel meer gespesialiseerde benadering as sekere van die misdade wat wel geprioritiseer is,” het hy gesê.

Volgens hulle statistieke is daar 40 mense dood in politieke sluipmoorde in 2022, en 41 dood in moorde wat verband hou met onwettige mynbou-aktiwiteite in 2023. Volgens hulle was daar 234 transito-rooftogte in 2023 en 296 plaasaanvalle in dieselfde jaar.

Volgens Broodryk het die transito-rower spesialis-reaksie van die regering tot gevolg gehad, maar plaasaanvalle word skynbaar geïgnoreer.

“AfriForum sal intussen deur sy meer as 170 veiligheidstrukture en meer as 10 000 opgeleide vrywilligers landwyd die stryd vir veiligheid van die gemeenskap aktief voortsit. Hierdie strukture slaag telkens daarin om plaasaanvalle af te weer en misdadigers wat hul aan dié misdade skuldig maak, aan te keer. AfriForum sal voortgaan om sy veiligheidsnetwerk verder uit te brei, opleiding te bied en gemeenskapslede toe te rus met die nodige vaardighede om binne die raamwerk van die wet op te tree en misdaad hok te slaan.”

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button