4 vermeende vragmotorkapers gewond, 17 in hegtenis ná skietgeveg met Sedibeng-polisie

Verdagtes, wat met ernstige misdade verbind word, het hulle Moses behoorlik met ’n blou-taakspan teëgekom voordat hulle daarin kon slaag om ’n vragmotor te kaap. 

Sewentien verdagtes is in hegtenis geneem en vier gewond nadat wetstoepassers gister (25 Augustus) tydens ’n intelligensiegedrewe operasie in Sedibeng  in die Vaaldriekhoek op misdadigers toegeslaan het wat ’n vragmotorkaping beplan het, berig die Vaalweekblad.

Die polisieoptrede volg nadat die misdaadintelligensie-eenheid inligting ontvang het oor ’n groep wat glo besig was om voor te berei om ’n vragmotor met elektroniese goedere te kaap.

Die polisie het tydens die operasie ’n AK-47, vier pistole en ammunisie teruggevind. Daar is ook op ’n seinblokkeertoestel, vyf voertuie en verskeie vals nommerplate beslag gelê.

Lede van die SAPS Taktiese Span, Gauteng Verkeerspolisie se Saturation Unit, Gauteng Highway Patrol en die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het aan die operasie deelgeneem.

Vier van die verdagtes is tydens ’n skietgeveg met die polisie gewond. Hulle is na ’n hospitaal geneem en word onder polisiebewaking aangehou.

Die polisie het onder meer ’n vuurwapen, ’n wit Toyota GD-6 wat met blou ligte toegerus was, asook Gautengse verkeerspolisie-uniforms, handskoene en ander toerusting teruggevind wat vermoedelik met die beplande vragmotorkaping verband hou.

Die verdagtes word met verskeie ernstige misdrywe verbind, waaronder poging tot moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, die nabootsing van polisiebeamptes, die besit van ’n seinblokkeertoestel, die besit van ’n gekaapte voertuig en sameswering om ’n vragmotor te kaap.

Volgens voorlopige inligting het die groep glo ’n vragmotor wat elektroniese goedere vervoer, geteiken. Daar word beweer dat verkeerspolisie-uniforms, blou ligte en vals nommerplate deel van die plan was om die vragmotor op die pad voor te keer.

Die 17 verdagtes sal na verwagting in die hof verskyn op aanklagte wat uit die ondersoek voortspruit, terwyl die ondersoek na die vermeende kapingsindikaat voortduur.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button