AfriForum beywer hom vir internasionale dag teen plaasmoorde

Druk neem toe op owerhede om plaasaanvalle te prioritiseer, terwyl buitelandse belangstelling in plaaslike landelike veiligheid hernu word.

AfriForum het 1 Desember as ‘n internasionale dag teen plaasmoorde verklaar en wil dié datum voortaan jaarliks gebruik om slagoffers van plaasaanvalle en hul naasbestaandes te herdenk.

Luidens ’n mediaverklaring het die organisasie die datum gekies ter nagedagtenis aan Wilmien Potgieter, wat op 1 Desember 2010, toe sy net twee jaar oud was, saam met haar ouers, Attie en Wilna, op hul plaas in die Vrystaat vermoor is.

Volgens AfriForum moet die herdenking die aandag vestig op die mense agter die misdaadstatistiek, asook die trauma en verlies wat plaasaanvalle vir oorlewendes, gesinne en landelike gemeenskappe meebring.

“[Wilmien se] lewe is wreed beëindig nog voordat dit behoorlik begin het. Haar dood – en dié van talle ander slagoffers van plaasmoorde – mag nooit vergeet of bloot tot statistiek gereduseer word nie,” sê AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid Jacques Broodryk.

Dra wit kruis op hemp of baadjie

AfriForum doen ‘n beroep op die publiek om op 1 Desember ‘n klein wit kruis op hul hemp of baadjie te dra, of ‘n wit hemp aan te trek, as teken van herinnering en solidariteit met slagoffers en hul families.

Die organisasie se takke landwyd sal om 12:00 ‘n oomblik van stilte hou. Mense in ander lande word ook aangemoedig om aan die herdenking deel te neem of plaaslike gedenkgeleenthede te reël.

“Dit gaan oor elke lewe wat tydens ‘n plaasmoord verloor is, elke persoon wat ‘n plaasaanval oorleef het en elke familie wat steeds met die trauma en verlies saamleef,” sê Broodryk.

AfriForum is ook besig om internasionale rolspelers, veral in die Verenigde State, by die inisiatief te betrek. Die organisasie wil hê dat die herdenking buite Suid-Afrika aandag moet vestig op geweld teen landelike gemeenskappe.

Terwyl AfriForum die internasionale bewusmaking van plaasmoorde wil bevorder, het die Amerikaanse president Donald Trump die kwessie hoofsaaklik as deel van sy regering se beleid oor Afrikaners en Suid-Afrika se beweerde rassediskriminasie gebruik.

Trump se regering het in Februarie 2025 ’n spesiale vlugtelingprogram vir Afrikaners aangekondig. Die program het aanvanklik voorrang aan Afrikaners gegee terwyl die Amerikaanse regering ander vlugtelingtoelatings opgeskort het. In Mei het Trump die toelatingsperk vir die Amerikaanse boekjaar tot 17 500 verhoog en bepaal dat die bykomende plekke aan Afrikaners uit Suid-Afrika toegeken word.

Beleid ontlok kritiek uit verskeie oorde

Die beleid het ook kritiek uit verskeie oorde ontlok. Die Suid-Afrikaanse regering het Trump se bewerings van ’n sogenaamde ‘wit volksmoord’ as ongegrond en sonder geloofwaardige bewyse beskryf. Die regering voer aan dat misdaad in landelike gebiede mense van verskillende rasse raak en dat die vlugtelingprogram ’n verkeerde beeld van die land se veiligheidsituasie skep.

Onafhanklike feitekontroleurs het eweneens gewaarsku teen die gebruik van plaasmoorde as bewys van ’n georganiseerde veldtog teen wit Suid-Afrikaners. Africa Check het Trump se bewering dat daar geen gevolge vir mense is wat plaasmoorde pleeg nie, as verkeerd bevind en verskeie skuldigbevindings en vonnisse uitgelig.

Kenners het ook daarop gewys dat roof in baie plaasaanvalle ’n belangrike motief is, hoewel dit nie die erns van die geweld of die behoefte aan beter landelike veiligheid verminder nie.

Kritiek het ook uit die internasionale vlugtelingsektor gekom. Global Refuge het die Amerikaanse besluit gekritiseer omdat dit een groep voorrang gee terwyl mense wat oorlog, politieke geweld en ander humanitêre krisisse ontvlug, veel minder toegang tot hervestiging kry.

Hoewel Trump  wel die internasionale kollig op plaasaanvalle en -moorde geplaas het, het vrae ontstaan oor Amerika se werklike grondvlakbetrokkenheid in die bekamping van plaasaanvalle en -moorde. Die meeste geld vir die bedrywighede kom uit AfriForum-lede se sakke.

Na wat verneem word, het AfriForum al derduisende rande aan bewusmakingsveldtogte in Amerika bestee, terwyl kenners reken dat die geld vir ander doeleindes aangewend kon word.

Amerika wil glo geld bewillig vir landelike veiligheid

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum meen egter dat die organisasie al alles in hul vermoë gedoen het om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas, maar dat plaasmoorde nie ernstig genoeg opgeneem word nie. “Ek wil dit duidelik maak dat ons ook die net baie wyer gespan het.

“Ons werf steun van groepe regoor die wêreld. Die groepe strek wyer as net regerings nie.’’

Kriel het ook genoem dat die Amerikaanse ambassadeur in die openbaar aangedui het het dat sy regering bereid sal wees om geld vir plaasveiligheid te bewillig. 

Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III, beskou homself as ’n ambassadeur vir AfriForum se veldtog teen plaasmoorde, wat fokus op beter landelike veiligheid, samewerking met die polisie en internasionale druk op die Suid-Afrikaanse regering.

Brent Bozell III het voorts gesê dat een van die vereistes vir sy aanstelling was om landelike gemeenskappe en boere te ondersteun. “Die twee grootste prioriteite is dat plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad erken moet word en dat daar iets aan gedoen moet word.’’

Volgens Brent Bozell III  was hy reeds met president Cyril Ramaphosa in kontak om die prioriteite te bespreek. Hy sê die Amerikaanse regering wil graag hande vat met die regering om oplossings te vind. “Ek het die aangeleenthed ook met Flip Buys van Solidariteit opgeneem en sy organisasie is ook bereid om saam met Suid-Afrikaanse regering te werk.’’

Volgens Kriel het nóg AfriForum nóg Brent Bozell III teen druktyd enige terugvoer van die president se kantoor ontvang nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button