Bejaarde vrou se moord op Wes-Kaapse plaas: 17-jarige vandag in die hof

Van Wyksdorp in die Klein Karoo is in afgryse gedompel ná die wrede moord op Valerie Enzer (79) wie glo ook verkrag is.

‘n 17-jarige verdagte wat in verband met die moord en verkragting van ’n 79-jarige vrou op Van Wyksdorp in die Klein Karoo in hegtenis geneem is, verskyn vandag in die landdroshof in Ladismith n die Wes-Kaap.

Oudtshoorn Courant berig Valerie Enzer, wat alleen op die plaas gewoon het, se liggaam is deur ’n plaaswerker op haar stoep gevind. Sy het 18 jaar alleen in haar huis gewoon.

Volgens Sersant Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die Ladismith-polisie ’n moorddossier geopen nadat die liggaam van ’n 79-jarige vrou op Maandag omstreeks 09:00 op die stoep van haar woning gevind is.

“Die ondersoek het gelei tot die arrestasie van ’n 17-jarige seun. Hy bly in polisie-aanhouding. Die omstandighede rondom haar dood vorm deel van ’n voortgesette polisie-ondersoek. ’n Nadoodse ondersoek om die oorsaak van dood te bepaal, sal later uitgevoer word. Die uitstaande verslag vorm deel van die voortgesette ondersoek.”

Sy is na bewering wreed vermoor en glo ook verkrag.

Sy was ‘n goeie mens

’n Inwoner van Wyksdorp, wat verkies om anoniem te bly, het gister gesê dat die dorp in absolute skok en afgryse gedompel is ná die wrede moord op Enzer.

“Sy was ’n lieflike vrou met ’n vreeslike mooi hart. Sy het nie verdien om so te sterf nie.”

Volgens haar het die 17-jarige verdagte ’n lang misdaadrekord en is hy in die gemeenskap bekend vir moeilikheid maak.

“Hy gee net niks om vir sy medemens nie.”

Klassifiseer plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad – AfriForum

Luidens ‘n ander berig van Oudtshoorn Courant, het die burgerregteorganisasie, AfriForum, gister heftig reageer oor die moord.

Volgens Jacques Broodryk, die hoofwoordvoerder van gemeenskapsveiligheid, doen hulle ’n beroep op die nuwe, waarnemende Minister van Polisie, Prof Firoz Cachalia, om plaasaanvalle onmiddellik as ’n nasionale prioriteitsmisdaad te klassifiseer.

Die versoek, wat al telkens aan vorige polisieministers gerig is, is ook weer aan die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) gerig.

Broodryk sê Enzer het glo weke voor die noodlottige aanval gekla oor heinings wat op haar plaas afgesny word en diere wat onwettig wei op die plaas.

“Volgens haar het sy min tot geen hulp van die plaaslike polisie ontvang nie. Hoeveel bejaardes moet in hul huise gemartel en vermoor word voordat die regering erken dat dit nie net ‘gewone misdaad’ is nie? Plaasaanvalle is wreedaardig, weldeurdag en stroop landelike gemeenskappe van ’n gevoel van veiligheid. Daarom eis ons weer dat plaasaanvalle formeel as nasionale prioriteitsmisdade geklassifiseer word – net soos transitorooftogte en renosterstropery,” het Broodryk gesê.

Hy het verder gesê dat AfriForum ’n formele motivering aan nasionale polisiekommissaris Generaal Fannie Masemola voorgelê het.

“AfriForum het duidelike regs- en strategiese gronde vir hierdie klassifikasie kragtens artikel 17D van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens uiteengesit. Plaasaanvalle voldoen aan én oorskry die kriteria wat tans gebruik word om prioriteitsmisdade te definiëer. Dié kriteria sluit onder meer in uiters gewelddadige en voorbedagte aanrandings wat dikwels marteling en teregstellings behels; die teiken van kwesbare slagoffers, veral bejaarde boere en werkers wat in afgeleë gebiede woon; en die gebruik van ’n georganiseerde modus operandi wat ooreenstem met dié wat sindikate gebruik (soos om slagoffers se bewegings dop te hou en om gekoördineerde bewegings en ontsnappingsplanne in te span).

‘Nie nog ‘n naam wat verlore gaan van plaasmoordslagoffers nie’

“Verdere kriteria waaraan plaasaanvalle ook voldoen om as nasionale prioriteitsmisdade geklassifiseer te word, is die nasionale ekonomiese en voedselsekerheidsimpak van die misdade, veral aangesien plaasaanvalle produktiewe plase destabiliseer; en die voorkoms van hoë vlakke van openbare vrees, gemeenskapstrauma en politieke aanhitsing.”

Hy sê AfriForum het ook ’n beroep gedoen vir die onmiddellike vestiging van ’n toegewyde Valke-taakspan vir landelike misdade. Dié taakspan moet bemagtig word met die nodige mandaat en kapasiteit om plaasaanvalle op nasionale vlak te ondersoek. Die span moet voorts ook nou saamwerk met die SAPD se landelike veiligheidseenhede, boerdery-organisasies en gemeenskapsveiligheidsnetwerke om ’n gekoördineerde en doeltreffende reaksie te verseker.

“Om plaasaanvalle as prioriteitsmisdade te klassifiseer, is nie simbolies nie – dis strategies. Dit beteken meer hulpbronne, vinniger reaksietye, beter ondersoeke en behoorlike geregtigheid vir die slagoffers. Valery Ezner se dood moenie net nóg ’n naam wees wat verlore raak op ’n lys van plaasmoordslagoffers nie. Dit moet ’n keerpunt wees,” sê Broodryk.


 

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button