Bejaardes wreed op plaas buite Brits aangeval

'n Grootskaalse soektog is begin nadat 'n egpaar ernstig beseer is tydens 'n aanval in hul huis op 'n blommeplaas in Noordwes.

‘n Bejaarde egpaar (87 en 85) is Maandagaand wreed op hul plaas by Mooinooi naby Brits tydens ‘n plaasaanval aangerand.

Albei het ernstige breinbeserings opgedoen en is in die trauma intensiewesorgeenheid in die Millpark Hospitaal.

Joop (87) en Carla (85) van Reeuwyk is ongeveer 22:00 deur ‘n onbekende aantal rowers in hul huis op die Topaz-blommeplaas oorval en wreedaardig aangerand en met ysterstawe oor die kop geslaan.

“Ons het nog bitter min inligting aangesien my ouers nog nie kon vertel wat gebeur het nie,” het hul dogter, Astrid, gesê.

“Hulle het ernstige breinbeserings en skedelbreuk opgedoen. My ma word tans geopereer om die bloeding op die brein te verlig.”

Volgens Ben Potgieter van die veiligheidsradiogroep in die omgewing, het Joop van Reeuwyk ongeveer 22:00 op die radio geroep.

“Ons het hom probeer kontak, maar die radio was dood. Boere in die omgewing het onmiddellik gereageer en ons is na die plaas toe. Toe ons aankom het ons van die verdagtes sien weghardloop. Ons het die oom en tannie in die huis aangetref. Hulle was barbaars aangerand. Lede van die gemeenskap het die aanvallers agterna gesit, maar hulle het weggekom. Ons het ‘n skootrekenaarsak en die tannie se skoene, saam met ‘n mus wat vermoedelik aan een van die aanvallers behoort, in die veld opgetel. Oom Joop se burgerradio het onder ‘n boom in die tuin gelê waar hulle dit laat val het,” het Potgieter gesê.

Volgens polisiewoordvoerder, kolonel Adele Myburgh, het aanvallers ‘n venster van die huis gebreek en toegang verkry.

“Die twee bejaardes is baie erg aangerand. Daar was bloed op verskeie plekke in die huis en dit wil voorkom asof die bejaarde man ook gewurg is,” het sy gesê. Sy het die gemeenskap geloof vir hul vinnige optrede.

“Die boere in die omgewing het waarskynlik die egpaar se lewens gered.”

‘n Grootskaalse soektog na die verdagtes is geloods.

Die polisie versoek enigiemand met inligting wat kan help om die aanvallers op te spoor, om luitenant-kolonel Lekai Mohajane by 082 416 3598 te kontak.

Read original story on kormorant.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button