Beloning vir ‘spookvrou’ van Uniondale se vermiste kop

Die skepper van 'n bekende spookvrou-standbeeld op 'n Wes-Kaapse dorp glo haar kop is deur vandale afgesny.

’n R1 000-beloning wag op jou as jy die kop van die bekende spookvroubeeld by Uniondale veilig kan terugbesorg. Die kop het tydens verlede week se stormweer spoorloos verdwyn.

Die skepper van die beeld, Ian Visser van Hoekwil, reken egter die skade is die werk van vandale, berig George Herald

“Ek het beton gebruik om dit te maak en dis onmoontlik dat die wind die kop kon afruk. Die beton moet nou ná al die jare op vol sterkte wees. As ’n mens kyk na die skade, is dit duidelik dat die kop skoon afgesny is.”

Hy sê dis hartseer, maar hy is reeds besig om dit te herstel. Verder het hy begin werk aan die ontwerp van ’n nuwe beeld op versoek van die Uniondale-sakekamer. Dié beeld gaan uit sewe figure bestaan wat nie spesifieke individue sal wees nie, maar mense sal voorstel wat in die verlede op Uniondale ’n verskil gemaak het en ook in die toekoms positiewe verandering sal bring.

“Dis ironies dat ek die versoek vir die nuwe beeld ’n week voor die storms ontvang het,” sê hy.

Beeld opgerig om toerisme te bevorder

Visser het die 2.2m hoë spookvroubeeld in 2023 by die Willowmore-ingang van die dorp opgerig as ’n skenking om toerisme te bevorder. Dit verwys na die spookvrou-legende van Uniondale.

Visser sê talle toeriste draai spesiaal van die hoofroete af om dit te besoek. Hulle verwyl dan tyd op die dorp, wat plaaslike ondernemings soos koffiewinkels en ander besighede ’n hupstoot gee.

“Die beeld het binne ’n paar jaar wêreldwye positiewe publisiteit ontlok en word op plaaslike motorfiets- en bustoere as ’n nasionale besienswaardigheid gesien. Selfs die televisieprogram, Carte Blanche, het ’n insetsel gedoen oor hoe reisigers afdraai om deur die dorp te ry. Dit wys die impak wat een beeld op ’n klein dorp se ekonomie kan hê.”

‘n Plaaslike inwoner het die skade verlede Dinsdag (12 Mei) ‘n dag ná erge windstorms, opgemerk. 

Enigiemand met inligting oor die vermiste kop kan Anthea by 079 417 5599 kontak.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.georgeherald.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Back to top button