Blinde SA-sanger wen gesogte toekenning in New York
Vernon Barnard het die afgelope Sondag sy internasionale sangdebut op ’n verhoog in die Groot Appel gemaak.
Toe die blinde sanger, Vernon Barnard, Sondagaand (18 Oktober) op die verhoog van die geskiedkundige The Town Hall in New York, Amerika, staan, was hy nie senuweeagtig nie.
Hy het sy mikrofoon dalk net ’n bietjie stywer vasgeklem en voor sowat 1 500 mense losgetrek met die liedjie Story of My Life.
Sy vertolking van dié liedjie het die publiek so geroer dat die beoordelaars besluit het om die gesogte Danny People Choice Award aan hom toe te ken.
Dit is ’n internasionale toekenning wat groter erkenning aan gestremde kunstenaars gee en sedert 2020 aan musikante van regoor die wêreld ’n platform bied om hul talente ten toon te stel. Dié organisasie roem homself ook daarop dat hy groter insluiting en bewusmaking van gestremdhede in die musiekbedryf bevorder.
Vernon was dankbaar – dankbaar vir genade en dankbaar dat die Here dié geleentheid oor sy pad gebring het.
Kyk wat sê Vernon hier:
Vernon en sy pa, Vernon Snr., het verlede week die lang vlug na Amerika aangedurf. Dit was albei se eerste besoek aan die land. “New York is besig,’’ het Vernon vertel, “en daar is ook soveel uiteenlopende mense. Seker net die helfte van die mense het Amerikaanse Engels gepraat, die res het almal in ander, vreemde tale gekommunikeer.’’
Vernon sê die organiseerders van die Danny Awards het hom vroeër die jaar op die sosialemediaplatform Instagram genader en gevra of hy aan die kompetisie wil deelneem. “Ek het eers gedink die ouens wil my nou scam, maar nadat ons ’n aanlynontmoeting met hulle gehad het, het ek baie opgewonde geraak.’’
Vernon het $5 000 (so ongeveer R87 000) gewen. Oor dié geld is hy baie bly. “Die eerste nuwe ding wat ek gaan aanskaf, is ’n selfoon – myne is al ses jaar oud. En die res van die geld gaan ek spaar. Ek gaan beslis nie spandabelrig leef nie.’’
Verskeie musikante uit onder andere Nieu-Seeland, Jamaika en Oostenryk het saam met hom by die gala-geleentheid opgetree. “Ek het ’n meisie ontmoet wat met haar tone viool speel. Ek het dadelik gedink dat my gestremdheid nie so erg is nie – hare is baie erger. My hande is eintlik my oë – ek kan myself nie eers indink dat ek sonder arms en hande deur die lewe moet gaan nie.’’
Vernon dink ook dat die Amerikaners baie meer respekvol teenoor mense met gestremdhede as die gewone Suid-Afrikaner is. “Hulle is dalk meer bedagsaam in die manier waarop hulle gestremdes se behoeftes in ag neem. Ons het byvoorbeeld ’n musiekwerkswinkel bygewoon. Die aanbieder het verduidelik dat hy ’n groen hemp dra en homself vir ons beskryf sodat die gesiggestremdes hom kon visualiseer.“
Vernon het in 2016 Suid-Afrikaners na trane gedryf toe hy aan The Voice South Africa deelgeneem het.
Dit het slegs ’n paar note van die One Direction-treffer Story of My Life tydens die blinde oudisies gekos om die gehoor op hul voete te kry. Bobby van Jaarsveld het in trane uitgebars tydens die opname van die episode.
Oor die liedjie sê Vernon: “Dit het vir my baie deure in die musiekbedryf oopgemaak. Ek dink ek het dit ’n Vernon-eie gemaak.’’
Vernon en sy pa vlieg môre (21 Oktober) weer terug na Suid-Afrika.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.