Bloemfonteinse vrou pleit om hulp om pa met motorneuronsiekte huis toe te bring

Martin de Klerk (58) is met die motorneuronsiekte amiotrofiese laterale sklerose (ALS) gediagnoseer en tans in Amerika.

’n Pa en ’n dogter deel dikwels ’n spesiale band. Vir ’n desperate Bloemfonteiner is dit baie waar.

Monique de Klerk van Uitsig het Bloemfontein Courant gekontak met ’n desperate pleidooi om haar te help om haar pa van New Jersey in Amerika terug te bring huis toe nadat hy onverwags siek geword het.

Volgens die 32-jarige is haar pa, Martin de Klerk (58), in September 2023 gediagnoseer met die motorneuronsiekte amiotrofiese laterale sklerose (ALS). Hy het in Mei gereis om sy ander dogter te besoek om hulle eerste kleindogter te ontmoet.

Martin het met die hulp en kontrole van sy dokter die vlug aangepak. Twee dae nadat hulle geland het, het sy gesondheid egter agteruitgegaan.

“Ons vra almal om asseblief geld of selfs jou tyd te skenk om ons te help om my pa by die huis te kry. Hy het ’n spesiale vliegtuig nodig om by die huis te kom. Die lugambulans wat hy benodig is $190 000 (ongeveer R3m). Hy het ’n verpleegster en ’n dokter nodig om by hom te wees. Ons het nie genoeg fondse of hulpbronne om hom by die huis te kry nie. Ons vra vir enige skenking waarmee die gemeenskap ons kan help,” het sy gevra.

Sy het genoem dat hierdie beproewing ’n toenemende impak op hulle gesin het aangesien haar pa, wat nog altyd taamlik aktief en betrokke was, nou nie vir homself kan sorg nie.

“My ma ly die meeste. Sy sien hoe haar beste vriend stadig agteruitgaan en daar is niks wat sy kan doen nie. Ons het altyd grappies gemaak, buite met die honde gespeel, gebraai of net gaan ry. Hy was baie entoesiasties oor die lewe. Ek voel hierdie nuus het stadig die lewe uit almal geneem,” het sy emosioneel gesê.

Martin en Jeanette de Klerk. Foto: Verskaf.

Ten spyte van die swaarkry wat hulle ondervind terwyl hulle aanpas by hul ‘nuwe normaal’, het Monique gesê dat hulle steeds hoop het dat dit ook sal verbygaan. “Hierdie hele ervaring het ons gesin nader aan mekaar gebring. Niks kan ons band breek nie. Ons sal altyd vasstaan in ons geloof al is ons in moeilike waters,” het sy gesê.

In die afgelope weke kon Martin tyd saam met sy dogter se gesin spandeer en hy het die kans gehad om sy kleindogter te ontmoet.

Hy wil graag terugkeer huis toe om te herenig met sy vrou wat sonder hom moes terugreis Suid-Afrika toe.

As jy Monique wil ondersteun, kan jy dit doen deur aan die organisasie Bring Martin Home te skenk. Kontak haar by 083 676 3428 vir meer inligting.

Read original story on www.bloemfonteincourant.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button