Boer van Noordwes se ore afgesny in plaasaanval wat inwoners ruk

'n Wrede aanval op Donovan Marx het nuwe kommer oor die veiligheid van boere en plaaswerkers laat ontstaan.

’n Beesboer van Noordwes veg om sy lewe nadat hy gister (28 Oktober), op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp in ’n wrede plaasaanval gemartel is.

Donovan Marx (50) is tydens die aanval geskiet, met ’n skerp voorwerp in sy been gesteek en sy ore is afgesny, berig Potchefstroom Herald.

Marx is ná die aanval na Mediclinic Potchefstroom geneem, waar hy mediese behandeling ontvang het.

Volgens beskikbare inligting is Marx en ’n plaaswerker tussen 08:00 en 11:00 aangeval. Sy vrou, Louise, was op pad na haar werkplek in Ventersdorp toe die aanval plaasgevind het.

Die aanvallers het glo die plaaswerker vasgebind voordat hulle Marx gemartel het. Die plaaswerker kon homself later loswikkel en hulp ontbied. Hy is volgens die beskikbare inligting nie beseer nie.

Die aanvallers het met Marx se rooi Isuzu-bakkie van die toneel gevlug.

’n BOLO (uitkykwaarskuwing) is Woensdag omstreeks 11:40 uitgereik waarin die publiek versoek is om op die uitkyk te wees vir die bakkie, met registrasienommer DJK 756 NW. Die voertuig kan moontlik op enige van die paaie rondom Potchefstroom wees.

Die publiek word versoek om enige inligting onmiddellik aan die polisie deur te gee en nie die verdagtes te probeer konfronteer nie, aangesien hulle volgens die waarskuwing gewapen is.

Kaptein Majang Skalkie, polisiewoordvoerder in Noordwes, het aan die Potchefstroom Herald gesê sy erken die navraag en sal terugvoer gee sodra sy al die inligting tot haar beskikking het.

Staan saam en bid

Intussen het Zelona van der Merwe van die VF Plus, sowel as Angelique Lottering van Vat Verniet Tafel en Mooirivier Beskerming ’n beroep op die gemeenskap gedoen om saam te staan en vir Marx en sy naasbestaandes te bid.

’n Gebedsbyeenkoms is gisteraand om 18:15 buite Mediclinic Potchefstroom gehou. Die gemeenskap is genooi om saam te bid vir Marx se herstel, sy familie en geliefdes, asook vir almal in die land wat deur geweld en trauma geraak word.

Inwoners van Potchefstroom het gisteraand buite die Mediclinic Potchefstroom vir Donovan se herstel gebid. Foto: Tania Smith

ER24 se personeel, van CB Security se personeel en verskeie lede van die gemeenskap het almal bymekaar gekom om te bid. Ds. Johan Raubenheimer van die NG Noord gemeente het woord gebring en die gebed gelei.

“Ons wil net graag vir ER24 en CB Security, sowel as vriende, familie en almal wat opgedaag het baie dankie sê,” het Zelona gesê.

Die ondersoek na die aanval duur voort.

Geweld teen boere kan nie verskoon word nie

Intussen het Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre komitee oor polisie, in ’n sterk bewoorde verklaring gesê dat die aard en omvang van hierdie aanvalle nie bloot aan die hand van misdaadstatistieke beoordeel word nie.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het dit self in sy Nasionale Landelike Veiligheidstrategie van 2019 erken,’’ het hy gesê.

Die strategie beskryf plaasaanvalle as uniek en wys op die wreedheid daarvan en die besondere kwesbaarheid van boerderygemeenskappe as redes waarom dit spesiale aandag verg. Hierdie erkenning moet ook in die polisie se optrede, prioriteite en toewysing van hulpbronne weerspieël word.

Cameron meen dat politieke optrede moet ook onder die loep geneem word.

“Ek verwerp die sing van Kill the Boer op politieke verhoë. Dit is en sal altyd haatspraak wees.

“Ek veroordeel ook die viering van plaasmoorde op sosiale media. Hierdie kwessie het in die verlede tot ’n ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gelei.

“Geen politieke leier behoort geweld teen boere of plaaswerkers te verwelkom, aan te moedig of te verskoon nie.’’

Nog ‘n plaasaanval in Hammanskraal

Pretoria Rekord  berig dat in nog ’n voorval op Dinsdagaand (27 Oktober)  ’n boer van Vasfontein in Hammanskraal in die vroeë oggendure in sy slaapkamer oorval is.

Volgens die polisie het drie onbekende mans ’n venster gebreek om toegang tot die huis te kry, waarna hulle die huiseienaar met ’n voorwerp teen die voorkop geslaan en hom gedwing het om sy kluis oop te sluit.

Die aanvallers het met kontant en verskeie waardevolle items gevlug.

Die polisie ondersoek nog die voorval.

Volgens die beskikbare syfers van die SAPD is een plaasmoord vir die tydperk April tot Junie 2026 aangeteken.

AfriForum het 29 plaasmoorde vir die volle jaar 2025 aangeteken, teenoor 37 in 2024.

Volgens TLU SA se rekords is twee plaasmoorde tussen 1 en 27 Augustus 2026 aangemeld.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.
Back to top button