Local newsNewsNews

Potchefstroomse boer gemartel in wrede plaasaanval

Volgens beskikbare inligting is Marx en ’n plaaswerker tussen 08:00 en 11:00 aangeval.

’n Beesboer van Noordwes veg om te herstel nadat hy Woensdagoggend, 28 Oktober, op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp in ’n wrede plaasaanval gemartel is.

Donovan Marx (50) is tydens die aanval geskiet, met ’n skerp voorwerp in sy been gesteek en sy ore is afgesny.

Marx is ná die aanval na Mediclinic Potchefstroom geneem, waar hy mediese behandeling ontvang het. Sy swaer, Pieter Steyn, het aan die Potchefstroom Herald bevestig dat Marx die slagoffer van die aanval is.

“Dit was my swaer, Donovan Marx. Die plaasaanval was in die oggendure. Hy is baie gemartel. Hy is stabiel en tans in teater,” het Steyn gesê.

Volgens beskikbare inligting is Marx en ’n plaaswerker tussen 08:00 en 11:00 aangeval. Sy vrou, Louise, was op pad na haar werkplek in Ventersdorp toe die aanval plaasgevind het.

Die aanvallers het glo die plaaswerker vasgebind voordat hulle Marx gemartel het. Die plaaswerker kon homself later loswikkel en hulp ontbied. Hy is volgens die beskikbare inligting nie beseer nie.

Die aanvallers het met Marx se rooi Isuzu-bakkie van die toneel gevlug.

’n BOLO (uitkykwaarskuwing) is Woensdag omstreeks 11:40 uitgereik waarin die publiek versoek is om op die uitkyk te wees vir die bakkie, met registrasienommer DJK 756 NW. Die voertuig kan moontlik op enige van die paaie rondom Potchefstroom wees.

Die publiek word versoek om enige inligting onmiddellik aan die polisie deur te gee en nie die verdagtes te probeer konfronteer nie, aangesien hulle volgens die waarskuwing gewapen is.

Kaptein Majang Skalkie, polisiewoordvoerder in Noordwes, het aan die Potchefstroom Herald gesê sy erken die navraag en sal terugvoer gee sodra sy al die inligting tot haar beskikking het.

Intussen het Zelona van der Merwe van die VF Plus, sowel as Angelique Lottering van Vat Verniet Tafel en Mooirivier Beskerming ’n beroep op die gemeenskap gedoen om saam te staan en vir Marx en sy naasbestaandes te bid.

Foto: Tania Smith

’n Gebedsbyeenkoms is Woensdagaand om 18:15 buite Mediclinic Potchefstroom gehou. Die gemeenskap is genooi om saam te bid vir Marx se herstel, sy familie en geliefdes, asook vir almal in die land wat deur geweld en trauma geraak word.

ER24 se personeel, van CB Security se personeel en verskeie lede van die gemeenskap het almal bymekaar gekom om te bid. Ds. Johan Raubenheimer van die NG Noord gemeente het woord gebring en die gebed gelei.

Foto: Tania Smith

“Ons wil net graag vir ER24 en CB Security, sowel as vriende, familie en almal wat opgedaag het baie dankie sê,” het Zelona gesê.

Die ondersoek na die aanval duur voort.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button