Boerekryger se standbeeld in Carolina word weens vandalisme dalk geskuif

Ná jarelange vandalisme van 'n historiese standbeeld in Carolina, is daar planne dat dié beeld na 'n veilige plek geskuif word.

Deur die jare was die standbeeld van veldkornet Adriaan Jacobus de Lange, wat in die hoofstraat van Carolina in Mpumalanga staan, kort-kort ‘n slagoffer van vandalisme.

In die mees onlangse geval, was die kop van die beeld in Junie 2021 afgekap, waarna dit vir ‘n week lank soek was.

Leon Dornel, ‘n plaaslike inwoner, noem dat die vandalisme tydens onruste op die dorp plaasgevind het.

Lizelle van Aswegen, ‘n plaaslike sakevrou en eienaar van verskeie gastehuise, het in die hoek van een van haar erwe op die kop afgekom.

“Iemand het die kop oor die muur gegooi, en ons het stukkies marmer daarmee saam opgetel,” sê Van Aswegen.

Volgens Barry Müller, die noordelike provinsies se kultuurkoördineerder van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), is die vereniging se hulp ingeroep.

Müller het die kop by een Van Aswegen se gastehuise, La La Lapha, gaan optel, en na die FAK se hoofkantoor in Pretoria teruggeneem. Volgens hom is die skade aan die kop wel herstelbaar.

In ‘n vroeër geval is die beeld se geweer in 2000 gesteel. ‘n Palissadeheining is destyds om die monument aangebring, maar dit het steeds nie die vandalisme verhoed nie.

Die palissadeheining om die monument verhoed glo nie enige vandalisme nie.

 

Die standbeeld het ‘n ryke geskiedenis wat Ermelo en Carolina verbind.

‘n Model was nodig om die Burger-monumente in Ermelo en Carolina ter ere van die gesneuwelde burgers op te rig. Daar is besluit om die standbeeld van De Lange se gelykenis te maak, alhoewel, volgens argiewe, is dit nie duidelik deur wie nie.

Izak van Heerden, ‘n bekende fotograaf van Carolina, het destyds ‘n foto van De Lange geneem, en per pos na die Cranckshaw Brothers-monument- en grafsteenmakers in Italië gestuur.

Ná deeglike navorsing het Hoëvelder De Lange se agterkleindogter opgespoor. Carien Hattingh het vir ‘n onderhoud ingestem om meer van haar oupagrootjie en die familiegeskiedenis te vertel.

Hattingh se ouma, Catharina Elizabeth de Lange, na wie Carolina vernoem is, het koerantuitknipsels vir die familie gehou.

Eers toe De Lange ouer was, het sy besef watter groot impak haar oupagrootjie op die dorp gehad het.

“As jy klein is, stel jy nie belang in die geskiedenis nie. Maar nou is ek ouer, en daar is niemand om te vra nie” sê Hattingh.

Sy het Ermelo op 22 jaar verlaat en nooit weer teruggekeer nie.

“Ek is ontsteld oor die vandalisme. Ek sal baie graag wil hê, as dit moontlik is, dat die beeld gerestoureer moet word en na ‘n veiliger plek verskuif word,” sê Hattingh.

Die FAK het op 14 Julie ‘n publieke kennisgewing teen die standbeeld se palissadeheining aangebring om die openbaar te verwittig dat die monument wel geskuif gaan word. Die publiek het 30 dae om te reageer.

‘n Beeldhouer gaan die monument na verwagting restoureer.

Die kennisgewing wat opgesit is. Foto: Grietjie Uys

Saam met die FAK en die Carolina-kerkraad gaan prof. Grietjie Verhoef van die Universiteit van Johannesburg ook aan die veldtog deelneem.

Thapelo Phetla, die woordvoerder van die Chief Albert Luthuli Plaaslike Owerheid, sê dat die plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling die saak van vandalisme ondersoek, en dat hy ‘n volledige verslag sal stuur sodra hy dit ontvang het.

Read original story on highveldernews.co.za

Back to top button