Centurion-onderwyser afgedank ná klag van verkragting
Die dissiplinêre verhoor van 'n Hoërskool Centurion-onderwyser, wat aangekla is van verkragting, is afgehandel.
Die Gautengse Departement van Onderwys het bevestig dat die dissiplinêre verhoor van die beheerliggaam, oor ‘n onderwyser van Hoërskool Centurion, Maandag afgehandel is.
Pretoria Rekord berig die onderwyser het in die hof verskyn op ’n klag van verkragting en is intussen van sy pligte onthef.
Departmentele woordvoerder Steve Mabona sê die onderwyser se kontrak met die beheerliggaam is beëindig en as sodanig word hy toegang tot die skool verbied.
“Hierdie besluit is aan die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SACE) meegedeel en daar is aanbeveel dat die opvoeder se naam permanent van die SACE-register verwyder word. Hierdie stap sal die betrokke opvoeder se onderwysakkreditasie herroep, wat indiensneming by enige skool of opvoedkundige instelling in Suid-Afrika in die toekoms verhoed,” verduidelik Mabona.
Die saak spruit uit die verskyning in die hof van die onderwyser verlede week op ’n aanklag van verkragting.
Hy is op borgtog van R3 000 vrygelaat nadat hy van die verkragting van ’n matriek-leerder aangekla is.
Die onderwyser is dadelik geskors toe die bewerings en aantygings aan die lig gekom het.
Mabona het ná die skorsing gesê die onderwysdepartment sien sulke beweerde oortredings van hierdie aard in ’n ernstige lig en sal nie huiwer om op te tree nie.
Die onderwyser het al vir ’n paar jaar volgens Mabona aan die skool klas gegee vir graad 8 tot 12-leerders.
Lumka Mahanjana, die Gautengse Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, het aan Rekord bevestig ’n onderwyser in sy dertigs het op ’n verkragtingsklag op 15 September verskyn en die saak is weer op 16 September vir sy borgtogaansoek aangehoor.
“Borgtog van R3 000 is toegestaan. Daar is beweer hy het seksuele omgang met ’n 18-jarige leerder gehad nadat hy haar met lae punte in die vak wat sy by hom neem, gedreig het.”
Die skool se beheerliggaam het navrae van Rekord na die departement verwys.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za