Familie soek antwoorde oor NWU-rugbyspeler (20) se dood
Die familie van Vilano Saunders oorweeg regstappe ná sy dood weens nekbeserings wat hy tydens 'n wedstryd teen Springs opgedoen het.
Geen steen gaan onaangeroer gelaat word om antwoorde te vind nie.
Só se Hennie Venter, die woorvoerder van die Saunders-gesin, wat tans besig is met ‘n ondersoek nadat die 20-jarige Vilano Maandagoggend in Vereeniging in die Sebokeng-hospitaal sy laaste asem uitgeblaas het.
Vaalweekblad berig dat Vilano, ‘n tweedejaar-onderwysstudent aan die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlpark-kampus, Saterdagmiddag tydens ‘n o.21-rugbywedstryd teen Springs verlam gelaat is nadat hy ‘n ernstige nekbesering opgedoen het.
Saunders, wat gewoonlik agsteman of flank speel, het op die gegewe dag op haker gesak. Volgens Venter het hy reeds regsadvies ingewin en daar word regsstappe teen die universiteit en die hospitaal oorweeg.
Venter noem dat Saunders die Donderdag voor die kragmeting ingelig is dat hy haker sou speel. Hy glo sy hele rugbyloopbaan agsteman en losvoorspeler gespeel. “Hy het al een of twee keer loskopstut gespeel, maar hy het baie gekla dat dit sy rug seermaak.”
Daar word beweer hy is kort voor die wedstryd vinnig touwys gemaak oor hoe om haker te speel.
Reël 3.12 van Wêreldrugby se reëls van die spel bepaal: “Dit is ‘n span se verantwoordelikheid om te verseker dat al die voorryspelers en voorry-plaasvervangers behoorlik afgerig is en oor die nodige ervaring beskik.”
Unie-goedgekeurde prosedures moet gevolg word om ‘n speler se geskiktheid om in die voorry te speel, te evalueer.
Reël 3.13 stipuleer voorts dat: “Skrums word onbetwiste skrums indien enigeen van die spanne nie ‘n behoorlik afgerigte voorry op die veld kan bring nie of indien die skeidsregter so beveel.”
Wêreldrugby se spelerwelsynriglyne bepaal dat dit die verantwoordelikheid van elke span is om te verseker dat alle voorryspelers en potensiële plaasvervangers behoorlik opgelei en ervare is vir hulle posisies.
Teenstanders vra glo vir onbetwiste skrums
Venter voer verder aan dat ‘n afrigter van Springs voor die wedstryd gevra het vir onbetwiste skrums, maar dat NWU Vaal dit van die hand gewys het. ‘n Emosionele Richard Louw, die afrigter van Springs se o.21-span, het Woensdag tydens ‘n telefoniese gesprek met Vaalweekblad uitgevaar oor onder meer die paramedici.
“Ek weet nie waar daardie vrou haar opleiding gekry het nie. Vilano het vir haar gesê hy kan niks in sy onderlyf voel nie. Toe gaan sy voort en beweeg sy nek. Ek het met dieselfde probleem as NWU op haker gesit. Ek het gevra dat die skrums nie-mededingend moet wees nie, maar hulle het nie ingestem nie. Hierdie ding het my hard getref. Ek het Vilano belowe hy sal oraait wees en nou is hy dood,” het Louw bewoë gesê.
Voorval word ondersoek
Volgens Louis Jacobs, die NWU se direkteur van korporatiewe kommunikasie, word die tragiese voorval deur die Valke Rugbyunie ondersoek.
“NWU wil eerstens sy innige meegevoel aan Vilano se familie en vriende betuig. Dit is altyd hartseer en tragies om ‘n student aan die dood af te staan.
Die inligting tot ons beskikking dui aan dat hy die nodige opleiding en ervaring gehad het om in die voorry te speel. Die hele aangeleentheid word deur die Valke Rugbyunie ondersoek. Ons wil nie dinge vooruitloop nie en kan nie nou op bewerings reageer totdat die saak afgehandel is nie,” het Jacobs gesê.
Na Saunders gestabiliseer is en skanderings by die Midvaalhospitaal op sy nek getoon het dat sy vierde en vyfde nekwerwel geskuif het, het medici Venter-hulle aanbeveel dat hy na die hoësorgeenheid by Sebokengstaatshospitaal oorgeplaas moet word aangesien hy nie aan ‘n mediese fonds behoort het nie.
Volgens Venter het Saunders ure gelê voordat hy by Sebokeng in ‘n algemene saal opgeneem is. “Die portiere het Vilano sommer aan sy nek opgetel om hom op ‘n bed te tel. My dogter moes hulle keer. Vilano het gehuil en gesmeek dat my dogter (sy meisie vir die afgelope ses jaar) by hom moes bly. Die hospitaal se personeel het geweier.”
Saunders se nek is later in traksie geplaas. “Die ergste is dat hy alleen en bang dood is,” het Venter gesê.
Volgens Venter word daar deur die staat ‘n nadoodse ondersoek gedoen waarna hulle ‘n onafhanklike forensiese lykskouing gaan laat doen.
“Ek gaan nie stop nie. Ons gaan bewys dat daar nalatigheid was. My seun is besig om ‘n webtuiste Justice for Vilano te bou.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za