Feesviering eindig in tragedie: Man (47) sterf ná val uit boomhuis

Wat ‘n vreugdevolle naweek sou wees om sy bevordering te vier, het tragies geëindig toe Ferdi Greef dodelik beseer is nadat hy sowat agt meter uit ‘n boomhuis geval het.

‘n Passievolle hengelaar. Die go-to guy vir almal wat hom geken het. En die ontvanger van ‘n totaal onverwagte bevordering by sy werk.

‘n Feesviering daaroor het egter tragies vir Ferdi Greef (47) geëindig toe hy die afgelope naweek uit ‘n boomhuis geval en noodlottig beseer is, berig Laevelder.

Greef, sy lewensmaat, Natalie Enslin (38), haar kinders Daniel (13) en Nikita (15), en sy boesemvriend, Roealle Strydom (41), saam met sy lewensmaat, Marieka (41) en haar dogter Marne (12), het die naweek by die gesogte wegbreekplek, The Fig Tree House, gaan ontspan.

Die boomhuis is in ‘n onherbergsame deel van ‘n plaas op die Mara-pad geleë.

“Hulle was daar om Ferdi se bevordering tot streekbestuurder te vier, waaroor hy op Woensdag 3 September ingelig is,” vertel sy broer, Dawie.

Omstreeks middernag Saterdag was almal op pad bed toe. Natalie en die kinders was teen daardie tyd reeds terug in Mbombela, waar die kinders vroeër die dag wou gaan kuier.

“Roealle en die ander was net in die bed toe hy glo ‘n slag hoor. Hy het opgestaan om te gaan kyk, maar kon Ferdi nêrens kry nie,” sê Dawie.

“Roealle het oor die stoepreling gekyk en Ferdi daar onder gesien, tussen rotse, digte bosse en boomstompe. Ferdi het sowat agt meter na benede geval. Hoe dit gebeur het, is steeds onduidelik,” sê Dawie.

Hy, Marieka en Marne het dadelik in die bakkie gespring en moes ‘n ompad ry om by Ferdi uit te kom. In die proses om in trurat so naby as moontlik aan die beseerde Ferdi te kom, is Strydom se nuwe bakkie erg beskadig.

Ferdi Greef was lief vir visvang. Foto: Verskaf

“Dit was vir hulle ‘n geweldige skok om hom daar te sien lê, veral toe hulle die ernstige hoofbesering raaksien.”

Weens die byna totale afwesigheid van selfoonsein kon hulle nie dadelik hulp ontbied nie. Hulle het bykans ‘n uur lank gesukkel om die 90 kg Ferdi op die bakkie te laai.

“Marieka het agter op die bakkie met Ferdi se kop op haar skoot gesit,” sê Dawie.

Hulle het die rowwe pad van sowat ses kilometer na die Mara-pad aangepak.

Skaars het hulle ingedraai, toe nóg ‘n krisis ontstaan: ‘n trop koedoes het in die donker oor die pad gespring en Strydom het teen een vasgery.

Die bakkie is verder beskadig, maar hy het nie gestop nie, en het reguit Rob Ferreira Hospitaal toe gejaag.

By hulle aankoms, is skanderings gedoen. Dit het gewys dat Ferdi ernstige bloeding in sy linkerlong gehad het, en verskeie diep kopwonde was sigbaar. Sy kop was ook erg geswel.

“Die dokters het vir ons gesê sy hoofbesering was noodlottig. Al het hy nog self asemgehaal, was hy volgens hulle breindood.”

Ferdi is die middag omstreeks 13:00 oorlede.

Dit is die tweede tragedie in net meer as ‘n jaar vir die Greef-familie. Hul ma, Annette (61), wat in eMkhondo (voormalig Piet Retief) woon, het reeds in Julie verlede jaar haar man, Kallie (61), aan kanker verloor.

Ferdi laat sy ma Annette, sy lewensmaat Natalie, twee stiefkinders Daniel en Nikita, drie eie kinders, Kallie (22), wat oor twee weke trou, Johan (22) en Sune (18), ‘n leerling by Hoërskool Piet Retief, asook sy broers, Dawie en Karel (42), agter.

Hy is Saterdag om 15:00 vanuit die Christian Revival Church in Riverside, Nelspruit, begrawe.

Ferdi Greef (47). Foto: Verskaf

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Buks Viljoen

Buks Viljoen, Laevelder
Back to top button