Fochville-inwoner sterf in veldbrand
Daar is bevestig dat die polisie reeds besig is met ‘n ondersoek na die voorval.
‘n Inwoner van die Fochville-omgewing, Pieter Slabbert (58), is gistermiddag oorlede nadat hy deur vlamme oorval is terwyl hy besig was om te poog om ‘n veldbrand onder beheer te bring.
Volgens verskeie inwoners van die omgewing was Slabbert een van ‘n groep mense wat probeer help het om ‘n veldbrand tussen die Crocodilian Hotel en Greenspark te beveg. Hy was ‘n werknemer van die Crocodilian gewees.
Volgens inligting het die vuur reeds vroeg gistermiddag naby Greenspark begin. Slabbert is omstreeks 17:00 deur die vlamme oorval.
“Wat presies gebeur het, weet ek nie, maar daar was ‘n baie groot brand gewees. Dit is so tragies,” sê Hein Marais, ‘n vriend van die familie.
Die bestuurder van nooddienste in die Wes-Rand, Nico Kahts, het bevestig dat die polisie reeds met ‘n ondersoek na die voorval besig is.
Veldbrande is ‘n algemene probleem in die gebied, en stel plase en gemeenskappe in gevaar. Massiewe skade is tydens verlede jaar se veldbrandseisoen in die Fochville-omgewing aangerig.
Read original story on www.citizen.co.za