Foto’s: Só lyk voertuig enkele ure nadat dit in Vaaldriehoek gesteel is
Verdagtes wat 'n luukse sportsnutvoertuig in die Vaaldriehoek-gebied gesteel het, het die motor in enkele ure heeltemal gestroop.
Die eienaars van ‘n gesteelde Toyota Fortuner was onlangs stomgeslaan toe hul geliefde voertuig binne enkele ure uitmekaargehaal is nadat dit by ‘n winkelsentrum in Vereeniging gesteel is.
“Ons asems was weggeslaan toe ons ons gesteelde Fortuner vind. Ons kon nie glo dat ons ongelooflike spotless, mooi voertuig in so ‘n kort tyd in derduisende stukke opgesny sou wees nie,” sê Andreas, ‘n Vaaldriehoekse inwoner, nadat sy gesteelde voertuig verlede Sondag binne drie ure nadat dit gesteel is, in stukke in ‘n sogenaamde kapwinkel (“chop shop”) in Orange Farms gevind is.
Andreas, wat versoek het dat sy volle identiteit nie bekend gemaak word nie, vertel dat hy op Oujaarsdag by President Hyper Vaal was en met sy terugkeer na die ondergrondseparkering gevind het dat sy Toyota Fortuner 2.5D RB gesteel is.

“Riaan Mocke, sekurteitshoof by President Square, het ons onmiddellik kom bystaan en videomateriaal beskikbaar gestel sodat ons dadelik kon sien hoe laat ons voertuig gesteel is, en ook die diewe se voertuig (‘n Volkswagen Polo) se registrasienommer kon sien.
“Danksy hulp van omstanders kon die diewe se voertuigregistrasie vinnig nagespeur word, wat die ondersoek dadelik aan die gang gesit het. Ons het drie “trackers” in ons voertuig gehad en tien minute later is die eerste sein in CE6 opgetel.”
Andreas het op die NetStarr App gesien dat die voertuig in CE6 stilstaan. Hy en sy seun, Riaan, het in die rigting van die voertuig gery. Hulle het op pad daarheen toevallig ‘n polisiebeampte, ‘n polisievoertuig en drie lede van AfriForum wat besig was met patrolliewerk, raakgesien.
“Ons het hulle vertel wat aangaan en hulle het dadelik hul koeëlvaste baadjies aangetrek om te help soek. Hulle het oor hoë mure in die omgewing geloer en selfs op dakke geklim om te kyk of hulle ons kar dalk iewers in ‘n erf sien staan.”
Kort daarna het hulle op die app gesien die voertuig beweeg weer. Hulle het die sein op pad na Orange Farms gevolg, maar die sein het al swakker geword.

‘n Grootskaalse soektog, met behulp van ‘n helikopter, is van stapel gestuur en ‘n groot gebied in die suide van Johannesburg is gefynkam.
Omstreeks 15:30 het NetStar laat weet dat die Fortuner in Orange Farms opgespoor is.
“Die slegte nuus was egter dat daar reeds begin is om dit op te kap. Die sowat 15 tot 20 verdagtes wat die voertuig by die chop shop opgekap het, kon daarin slaag om te ontvlug.
“Ons jaag toe deur tot by die perseel in die hartjie van Orange Farms. Ek het geweet dat die voertuig al uitmekaar sou wees, maar ons asems was weggeslaan oor wat ons daar aangetref het.
“Ek het in my wildste drome nie verwag dat ons ons kompleet voertuig, ‘n ongelooflike spotless, mooi voertuig, in soveel dele sou kry nie! Ons Fortuner kon net uitgeken word aan die doelgemaakte ‘seat covers’ en die diensboekie wat op die toneel gevind is. Die enjin, ratkas, propshaft, diff en ander onderdele was reeds van die perseel af verwyder. Ons vermoed daar was reeds kopers en dat die diefstal deur ‘n sindikaat gepleeg is,” sê hy.
Stukke van ander voertuie is ook op die perseel gevind. Die stukke van Andreas se voertuig is deur die polisie na hul diefstaleenheid se perseel vervoer en die ondersoek duur voort.
“Ons kar was gelukkig verseker en ons het nie meer veel daarop geskuld nie, maar dit bly ‘n groot terugslag… die sentiment… Die voertuig was in ‘n puik toestand en ‘n groot trots,” sê Andreas.
Foto’s onder: Só het die luukse voertuig by die kapwinkel gelyk, skaars drie ure nadat dit gesteel is.





Read original story on www.citizen.co.za