Só lyk gesteelde voertuig na enkele ure in ‘n kapwinkel!
Dié soort diefstalle word vermoedelik deur 'n sindikaat gepleeg
“Ons asems was weggeslaan toe ons ons gesteelde Fortuner vind. Ons kon nie glo dat ons ongelooflike spotless, mooi voertuig in so ‘n kort tyd in derduisende stukke opgesny sou wees nie!”
So sê Andreas, ‘n Vaaldriehoekse inwoner, nadat sy gesteelde voertuig verlede Sondag binne drie ure nadat dit gesteel is, in stukke in ‘n sogenaamde kapwinkel (“chop shop”) in Orange Farms gevind is.
Andreas, wat vesoek het dat sy volle identiteit nie bekend gemaak word nie, vertel dat hy op Oujaarsdag by President Hyper Vaal was en met sy terugkeer na die kelderparkering, gevind het dat sy Toyota Fortuner 2.5D RB gesteel is.
“Riaan Mocke, sekurteitshoof by President Square, het ons onmiddellik kom bystaan en videomateriaal beskikbaar gestel sodat ons dadelik kon sien hoe laat ons voertuig gesteel is, en ook die diewe se voertuig (‘n Volkswagen Polo) se registrasienommer kon sien. Danksy hulp van omstanders kon die diewe se voertuigregistrasie vinnig nagespeur word, wat die ondersoek dadelik aan die gang gesit het. Ons het drie “trackers” in ons voertuig gehad en tien minute later is die eerste sein in CE6 opgetel.
“Die NetStar App het getoon dat die voertuig in CE6 stilstaan. Ek en my seun en Riaan het dadelik in daardie rigting gery, waar ons toevallig ‘n polisiebeampte in ‘n polisiebakkie en drie lede van AfriForum wat besig was met patrolliewerk, aangetref het. Ons het hulle vertel wat aangaan en hulle het dadelik hul koeëlvaste baadjies aangetrek om te help soek. Hulle het oor hoë mure in die omgewing geloer en selfs op dakke geklim om te kyk of hulle ons kar dalk iewers in ‘n erf sien staan.
“Kort daarna het NetStar laat weet ons voertuig beweeg weer. Hulle het die sein in Houtkopweg op pad na Orange Farms gevolg, maar die sein het begin verdwyn. ‘n Groot grond- en lugsoektog met ‘n helikopter is intussen op tou gesit en die hele gebied aan die Suide van Johannesburg is gefynkam.
“NetStar het ons heeltyd op hoogte gehou en omstreeks 15:30 laat weet dat ons voertuig in Orange Farms gevind is. Die slegte nuus was egter dat daar reeds begin is om dit op te kap. Die sowat 15 tot 20 verdagtes wat die voertuig by die chop shop opgekap het, kon daarin slaag om te ontvlug.
“Ons jaag toe deur tot by die perseel in die hartjie van Orange Farms. Ek het geweet dat die voertuig al uitmekaar sou wees, maar ons asems was weggeslaan oor wat ons daar aangetref het. Ek het in my wildste drome nie verwag dat ons ons kompleet voertuig, ‘n ongelooflike spotless, mooi voertuig, in soveel dele sou kry nie! Ons Fortuner kon net uitgeken word aan die doelgemaakte ‘seat covers’ en die diensboekie wat op die toneel gevind is. Die enjin, ratkas, propshaft, diff en ander onderdele was reeds van die perseel af verwyder. Ons vermoed daar was reeds kopers en dat die diefstal deur ‘n sindikaat gepleeg is,” sê hy.
Stukke van ander voertuie is ook op die perseel gevind. Die stukke van Andreas se voertuig is deur die polisie na hul diefstaleenheid se perseel vervoer en die ondersoek duur voort.
“Ons kar was gelukkig verseker en ons het nie meer veel daarop geskuld nie, maar dit bly ‘n groot terugslag… die sentiment… Die voertuig was in ‘n puik toestand en ‘n groot trots,” sê Andreas.
* Hy bedank graag President Hyper en President Square se personeel, in besonder vir Riaan Mocke, ander omstanders wat inligting verskaf het om die ondersoek vinnig aan die gang te kry, NetStar vir deurlopende terugvoer en vir Lizette en Brandon van Mooirivier Makelaars, van wie hy ook uitstekende diens ontvang het.


Foto’s onder: Só het die luukse voertuig by die kapwinkel gelyk, skaars drie ure nadat dit gesteel is.






