Geliefde professor verstik en sterf by vleisbraai

Die bekende akademikus is oorlede tydens 'n wegbreek saam met sy familie.

Wat die afgelope Paasnaweek vir prof. Johan Bekker (56) en sy familie ‘n lank beplande fees moes wees, het op Goeie Vrydag in ‘n tragedie ontaard toe hy aan ‘n stukkie braaivleis verstik en gesterf het.

Dié bekende akademikus by die Vaaldriehoekse Universiteit van Tegnologie (VUT), sy ma, al drie haar kinders en hul gesinne het weke lank beplan aan ‘n wegbreeknaweek by Kranspoort, ‘n vakansiedorp so 40 km buite Middelburg.

“Dit sou die eerste keer in drie jaar wees dat almal bymekaar sou wees. Al 17 van ons het só uitgesien daarna,” sê sy dogter, Corli.

“Ek en my pa het die oggend al gery en by die familie aangesluit. Ons het die hele middag gelag, gekuier en opgevang. My ma het my sussie, wat vir die naweek van PE af gevlieg het, eers 17:00 by die lughawe gekry. Toe hulle so 19:30 die aand by ons aansluit, het ons éérs lekker gekuier. Vrydagaand was so ‘n goeie aand… of veronderstel om te wees.

“Ons het net na 21:00 gebid voor ons eet en almal het begin opskep. Pappa het ‘n stukkie steak gesny en ‘n happie gevat. Mamma het gesien hy verstik. Sy vra toe dadelik of hy oukei is, maar hy kon nie praat nie. Hy het net sy kop geskud en met sy hand gewys hy kry nie asem nie.

“Die mans het dadelik begin met die Heimlich maneuver. Ons almal het letterlik álles wat in daai chaos en paniek in jou kop opkom, probeer. Die naaste hospitaal was Middelburg en al het ons geweet dit sou te ver wees, het ons steeds ‘n ambulans ontbied. My neef het intussen na die vakansiedorpie gejaag en twee mediese susters gaan haal. Uit pure desperaatheid het ek ook die mense in die huis oorkant gaan roep om te kom help. Die man is toevallig ‘n dokter en het dadelik vasgestel dat daar nie meer ‘n pols was nie. Hy het nogtans alles probeer wat hy kon,” sê Corli.

Bekker se heengaan is nie net ‘n geweldige skok vir sy vrou Annelie, dogters Corli en Jane en die res van die familie nie. Dit is ook ‘n groot terugslag vir VUT en die talle studente wat deur die jare deur hom onderrig is. Van sy studente en kollegas beskryf hom op Facebook as hoogs intelligent, ‘n eerbare man en ‘n ware gentleman.

Nico Oosthuizen, ‘n kollega wat besig was met sy doktorale studies onder prof. Bekker, sê hy was baie geliefd by sy kollegas en sal onthou word vir sy lekker spanwerk. “As my nagraadse studieleier was sy entoesiasme werklik ‘n inspirasie,” sê hy.

Bekker is op 20 Jan 1966 in Upington gebore en het in die destydse Port Elizabeth gematrikuleer. Na skool het hy aan die Universiteite van Port Elizabeth en Stellenbosch studeer en sy meesters- en doktorsgraad in Fisika aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit behaal.

Hy het in 1991 na die Vaaldriehoek verhuis toe hy as dosent by VUT aangesluit het. Hy was ten tyde van sy dood ‘n professor in VUT se Centre of Alternative Energy in die Fakulteit: Ingenieurswese.

“Hy het gehou van kuier en was so lief vir stories vertel, lag en grappies maak. Hy was ook lief vir die buitelewe, die natuur en rustigheid. Sy stokperdjies was jag, sport kyk, visvang by die see, en stap saam met Mamma en hul hondjie Snip. Hy was altyd betyds en het altyd ‘n plan vir alles gehad. Hy was baie slim en kon enige ding regmaak. Ons sal hom veral onthou vir hoe hy altyd gesing het en hoe lief hy vir ons, sy familie en vriende was,” sê Corli.

‘n Gedenkdiens is Dinsdag, 26 April, by Kompas Gemeente gehou. Die Bekker-gesin bedank hul familie en vriende vir hul hulp en ondersteuning in dié hartseer tyd. “Dankie ook aan almal wat ‘n rol in sy lewe gespeel het en sy nagedagtenis in hul gedagtes en harte sal verewig.”

Read original story on vaalweekblad.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button