George-familie in rou ná skietongeluk in Amerika boerseun eis
Eric Filmalter (26) se familie wat tans in George woon maar oorspronklik van Limpopo is, wil hom graag in Suid-Afrika se grond ter ruste lê.
’n Familie van George se hartsbegeerte is om hul geliefde Eric Filmalter (26) se liggaam na Suid-Afrika terug te bring sodat hulle finaal kan afskeid neem.
Filmalter het, volgens George Herald, die oggend van 28 November (27 November die aand, Amerikaanse tyd) gesterf na ’n noodlottige skietvoorval op ’n plaas in Goldfield, Iowa in Amerika.
Hulle BackaBuddy-rekening, ‘Bring ons boerseun, Eric, huis toe’, staan tans op bykans R264 000.
Die mikpunt is om R300 000 in te samel wat al die kostes sal dek. Die familie het nog sowat drie weke oor om die geld bymekaar te maak.
“Ons wil hom huis toe bring en hom in Suid-Afrika se grond ter ruste lê. Die grond waarop hy as seun rondgehardloop het, spoor gesny het, kattekwaad aangevang het en saam sy neefs en niggies grootgeword het,” verduidelik die plasing op BackaBuddy.
Die voorval
Volgens Filmalter se suster, Laurette Grobler, het die ongeluk plaasgevind terwyl haar broer vir drie jonger mans, wat saam met hom op die plaas gewerk het, gewys het hoe om ’n pistool veilig te maak.
“Die loop het na hom gewys toe die skoot afgaan. Die ouens wat daar saam met hom was sê hy het ’n glimlag op sy gesig gehad, en toe is hy weg. Dit het so vinnig gebeur,” vertel Grobler tydens ’n huisbesoek vanoggend.
Filmalter se vrou, Manisha (25), was saam met hulle in die huis, op die boonste vloer, ten tye van die voorval.
Sy geliefdes
Die paartjie het op 8 Februarie vanjaar in Wildernis getrou en die plaaseienaar in die VSA, Adam Harvey, het ook die troue bygewoon. “Harvey het die troue geweldig geniet. Hy was baie na aan Eric en sy vrou,” het Grobler gesê.
Beide Eric en sy vrou is oudleerders van Hoërskool Outeniqua. “Hulle was onafskeidbaar,” het Grobler vertel.
“Hy het eers Amerika toe gegaan om vir hulle ’n nuwe begin te maak en toe kom hy haar haal. Sy was die afgelope twee jaar saam met hom daar. Manisha het boekhouding studeer terwyl Eric op die plaas gewerk het.”
Eric se familie kom oorspronklik van Limpopo, waar hulle geboer het. “Sy droom was nog altyd om ’n boer in Amerika te wees,” het Grobler gesê.
“Ons is so trots op die ongelooflike mooi en verantwoordelike jong man wat hy geword het. Hy was dapper en braaf, maar ook saggeaard en beskermend. Hy was ’n fantastiese oom vir my kinders.”
Filmalter was lief vir jag, teikenskiet, visvang en die natuurlewe. Hy was die jongste lid van sy gesin en word oorleef deur sy vrou, ma Laurette, stiefpa Kobus van Heerden, en sy broers en susters, Pieter-Schalk Grobler, Laurette Grobler, Francois Grobler en Annaleen en Susan Filmalter, asook sy swaer, Jeandre Smit.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.georgeherald.com