Geweerskoot na botsing in Potchefstroom: De Aar-man sterf
Polisie in die Noordwes ondersoek tans die dood van Donavan Claassen (28) wat vroeg Saterdagoggend oorlede is.
‘n Man van De Aar is Saterdagoggend omstreeks 03:25 oorlede toe hy vermoedelik sy lewe geneem het nadat hy in ‘n muur in Louwstraat in Potchefstroom vasgery het.
Die man, Donavan Claassen (28), is met ‘n skietwond in sy kop op die grond gevind.
Volgens Noordwes se polisiewoordvoerder, Kaptein Sam Tselenyane, is die polisie omstreeks 02:43 na die ongelukstoneel ontbied waar hulle met hulle aankoms ‘n wit Ford Ranger gewaar wat in ‘n muur ingeploeg het.


“Lede van Mooirivier Beskerming wat eerste op die toneel opgedaag het, het aan die polisie probeer verduidelik wat gebeur het. Kort daarna is ‘n geweerskoot gehoor,” vertel Tselenyane.
Polisie het in die rigting van die skoot beweeg en toe vir Claassen met ‘n skietwond in sy kop gewaar.
“Mediese nooddienste en alle ander rolspelers is ontbied en die bestuurder is op die toneel dood verklaar,” voer Tselenyane verder aan.
Volgens Tselenyane word die saak nog verder ondersoek.
Claassen se familie en mense wat na aan hom was, is nog geruk deur sy onverwagse dood. Op sosiale media is daar ook boodskappe van medelye gedeel.
“Ons woorde is min en trane is baie! Ons sal jou onthou vir die briljante elektrisiën, solar installeerder, voorbeeld vir die ander en pragtige mens wat jy was,” deel Mientjie Marais op Facebook.
Netwerk24 berig dat Claassen ‘n elektrisiën en restaurant-eienaar was ten tyde van sy dood, en dat hy vir werkdoeleiendes in Potchefstroom was.
Hy was ook aan Maritha Albertyn (25) verloof. Hulle sou oor ‘n paar maande getrou het.
Read original story on potchefstroomherald.co.za