Gewonde Middelburgse vrou veg verbete terug teen rowers

’n Vrou wat op die pad gelê het nadat rowers haar geskiet het, het met haar wapen op hulle bly skiet om die res van haar gesin te beskerm.

Flora Rodrigues (55) van Middelburg in Mpumalanga word steeds in die Kosmos-hospitaal in eMalahleni behandel vir ’n ernstige skietwond nadat rowers op die N12 op haar geskiet het.

Haar man, Alvaro, sê hy kan steeds nie slaap weens die gebeure nie.

“My wapen het gestoor en ek het effens gebukkend vooroor gestaan om die pistool weer aan die gang te kry, terwyl die koeëls om my kop gevlieg het. Ek hoor ook die hele tyd die gille in my gedagtes.”

Terwyl hy stuk vir stuk haar bebloede klere uit ‘n sak haal en die gaatjie in haar sweetpakbaadjie wys, vertel Alvaro van die aand se gebeure.

Hy en sy vrou het verlede Maandag besluit om saam met hulle dogter, Nicoll, en seun, Miguel, na die Internasionale Lughawe O.R. Tambo in Johannesburg te ry om hulle skoonseun, Edward, lughawe toe te vat. Hy het ’n laat vlug Amerika toe gehad.

“As ek en my vrou, wat wapens gehad het, nie saamgery het nie, het hulle ons seun en dogter doodgeskiet.”

Die roete en skietvoorval

Hy onthou dat hulle omstreeks 23:00 op pad terug Middelburg toe was.

Sowat 20km voor eMalahleni, naby die Ogies-afrit, is daar ’n effense bult en Alvaro sê ‘n mens kan nie dadelik agter die bult sien as jy in die vinnige baan aangery kom nie.

“Die oomblik toe Miguel oor die bultjie ry, het hy ‘n klip getref.”

Hy het aan sy seun genoem om aan te hou ry, al is die wiel pap. Sowat ’n kilometer en ’n half verder het Miguel die kar tot stilstand gebring.

Alvaro, sy vrou en Miguel het uitgeklim om die wiel te ruil. Nicoll het in die kar gebly, omdat dit snerpend koud was.

“Ek en Flora het met ons wapens uitgeklim en die area en bosse rondom ons dopgehou. Dit was pikdonker.”

Vier van die wielmoere het losgekom, maar die vyfde een wou nie uitkom nie.

Terwyl hulle gesukkel het, het twee groot mans vanaf die oorkant van die N12 in die donker aangehardloop gekom.

Die rowers het geskree: “Stop, I shoot! Stop I will kill you! Stand still, I’ll shoot!”

Flora Rodrigues se bebloede sweetpakbaadjie.

Op hierdie tydstip het die rowers net begin skiet, want hulle het waarskynlik die wapens in die egpaar se hande gesien.

Alvaro sê sy wapen was reeds gespan, maar van skrik toe die rowers aangehardloop kom, het hy dit weer gespan en het dit gestoor.

Een van die skote het sy vrou getref, maar terwyl sy op die grond geval het, het sy die rowers se geweervuur beantwoord.

Dit het die rowers van stryk gebring, waarop een in die bosse agter hulle in verdwyn het en die ander een teruggehardloop het na die oorkant van die pad.

Terwyl die rower na die ander kant van die hoofweg gehardloop het, het hy met sy wapen agter sy rug die hele tyd in hulle rigting geskiet. Een van die skote het die kar getref.

Alvaro het op daardie stadium sy wapen gereed gehad en hy het, volgens hom, 14 skote in die lug afgevuur, ‘sodat al die ander rowers wat dalk daar in die omgewing nog was, sou weet dat ons wapens by ons het en dat ons sal skiet’.

Soeke na hulp

Alvaro-hulle het dadelik hulle selfone uitgepluk om vir hulp te bel, maar drie van hul vier fone se batterye was pap.

“Dit was lank na middernag en ons het probeer voertuie en trokke stop om te help, maar ek verstaan dat almal bang is en niemand het gestop nie.”

Van skok kon hulle ook nie nommers van die ambulansdienste in die hande kry nie.

Nicoll het egter een van hul vriende in Middelburg se nommer onthou en hulle het hom geskakel. Hy het na die toneel gejaag en Flora na die Kosmos-hospitaal geneem.

“Terwyl ons vir die vriend gewag het om my vrou te kom haal, het ons gesien dat nog ’n voertuig agter ons tot stilstand kom, wat klippe getref het. Hulle het egter nadat hulle die band geruil het, gery. Ons het hulle probeer stop, maar hulle het net verby gery.”

‘Dankbaar sy leef’

Alvaro sê die koeël is onder sy vrou se bors in, en onder by haar rug uit. Hy is dankbaar dat sy leef.

“Die koeëlpunt het al die belangrike organe met millimeters gemis, maar het haar milt en nier geraak en sy sou vandag [Donderdag] geopereer word. Die dokter het gelukkig vanoggend gesê dat ’n operasie nie meer nodig is nie.”

  • Weens die geweldige bloedverlies sal sy waarskynlik nog tot volgende week behandeling in die hospitaal ontvang.
  • Alvaro meld dat sy vrou sowat twee jaar gelede by ’n sekuriteitsfirma gewerk het en weet hoe om ’n wapen te hanteer.
  • Hy wil graag elke persoon wat die N12 moet gebruik, waarsku om nie in die aande na 20:00 te ry nie. “Slaap liewers iewers oor! Dit is te gevaarlik om daardie pad te ry met die rowers wat klippe of skerp voorwerpe pak op die paaie!”
  • Alvaro sê in só noodsituasie ‘dink ’n mens nie rasioneel nie’. Hy stel voor dat elke motoris alle noodnommers, veral watter nommers om te bel as jy op die hoofweë ry en dalk hulp benodig, op ’n papier neer te skryf. “Lamineer dit en sit dit in jou paneelkassie! Dan hoef jy nie te wonder waarheen om te bel nie.”

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button