Grandi Theunissen: Al is sy hart nou blou is sy menswees nog groen
Die winde van verandering het die politiek geruk nadat ’n bekende VF Plus- koukusleier na die DA oorgeloop het, maar hy sê hy is steeds dieselfde mens.
Hy het ’n dik, grys snor wat oor sy bolip streep. Helder blou oë wat so ’n barshou kyk.
Hy het ’n moderne broek en baadjie aan. ’n Pienkerige hemp waaronder sy peuselhappie-magie ’n klein bultjie vorm.
“My vrou koop die meeste van my klere en kies ook my uitrustings,” fluister Grandi Theunissen (66) waar hy kiertsregop in die agterste stoele by TLU SA se jaarlikse kongres, wat vroeër die week in Pretoria gehou is, sit.
Hy het die afgelope week – sedert sy bedanking uit die VF Plus – ’n bekende gesig in die politieke landskap geword.
Tot en met verlede week was hy net nog ’n plaaslike VF Plus-koukusleier. Ja, hy het die ANC- en EFF-raadslede op hulle tone gehou en die Pretorianers was deeglik bewus van dié man met die Italiaanse tongknoopnaam, maar in die res van die land was hy maar taamlik onbekend. Nou nie ’n Ian Cameron, Corné Mulder of Pieter Groenewald nie.
Sommer net ou Grandi, wat sommige lede van die EFF al as ‘’n lastige ou oom’ aangespreek het.
Vir iemand wat nie noodwendig ’n boerdery-agtergrond het nie, lyk sy betrokkenheid by TLU SA dalk met die eerste oogopslag vreemd. Hy sien dit egter anders.
Hy is al langer as ’n jaar voorsitter van dié organisasie se plaaslike regeringskomitee en dien daarom ook op hulle uitvoerende komitee.
“Ek weet nie baie van boerdery af nie, maar die boer moet iets van munisipale sake weet,” sê hy.
Boere val binne munisipale gebiede, betaal eiendomsbelasting en behoort munisipale dienste te ontvang. Dit is juis op dié terrein waar hy meen sy ervaring in plaaslike regering ’n bydrae kan lewer.
Theunissen maak keel skoon. Begin met ’n diep stem praat. ’n Man wat gesag afdwing.
Koppe knik instemmend.
Theunissen sluip by die konferensielokaal uit. Maak homself op die stoep – wat oor sy geliefde Pretoria uitkyk – tuis.
Maar hoekom was dit nou so groot nuus toe Theunissen aankondig dat hy die VF Plus gaan verlaat en hom by die DA aansluit?
Dit is mos nou nie iets nuuts as ’n mens oorloop nie. Floyd Shivambu het die EFF vir die MK verruil. Busisiwe Mkhwebane, die voormalige openbare beskermer, het eers van die ANC na die EFF oorgestap, en toe in laat-2024 die EFF verlaat om by die MK-party aan te sluit.
Maar toe ’n stoere Afrikaner besluit het om die ‘eie’ politieke nessie, na bykans drie dekades te verlaat, was die gort gaar. Die rimpels in die ontstuimige politieke see is selfs onder opposisielede gevoel en daar is hard agter hande geskinder.
Paleisrewolusie, skreeu politieke kommentators kliphard oor al wat ’n radiostasie en potgooi is.
Verraaier. Oorloper. Hans-khaki wat nou besluit het om die Afrikaner te verraai, skreeu die sleutelbordkrygers. Dit is nou van die mooier woorde wat gebruik is …
Theunissen sê die reaksie op sy besluit om die VF Plus te verlaat was uiteenlopend. Mense het hom kort ná die aankondiging begin kontak. Sommige het gesê hulle is jammer om dit te hoor en dat hulle nie met sy besluit saamstem nie, terwyl ander gesê het hulle verstaan waarom hy dit gedoen het.
“Dit was van alle kante af. Mense het my gebel, WhatsApps en selfs e-posse gestuur.”
Hy sê hy het geweet die kritiek sou volg en homself daarop voorberei.
“’n Mens voel gekrenk, jy voel beledig en soms voel jy sleg. Maar dan weet ek ook die meeste van hierdie mense is totaal oningelig.”
Volgens hom gaan baie van die kritiek nie oor sy redes vir die besluit nie, maar bloot daaroor dat hy die party verlaat het.
“As iemand so oningelig klippe wil gooi, dan moet hy maar klippe gooi.”
Soos koeksisters en kerrie
Theunissen het nou wel sy groen hemp vir ’n bloue verruil, maar dit is nie asof hy oornag sommer net ’n ideologiese ommeswaai gemaak het en nou as ’n liberale Afrikaanse verrraaier uitgekryt kan word nie.
Hoewel die DA en VF Plus in verskeie koalisieregerings regoor die land saamwerk, verskil hul ideologieë soos koeksisters en kerrie.
Die DA was nog altyd ’n meer liberale party en selfbeskikking en Afrikaans, as taal, was nog nooit een van die sentrale identiteitskwessies van die party nie.
Vir die VF Plus is Afrikaans en die beskerming van Afrikaanse gemeenskappe ’n veel groter prioriteit.
Die DA is die grootste opposisieprty in die land, terwyl die VF Plus slegs 1.36% steun in die laaste nasionale verkiesing gekry het.
Maar die grootste onderskeid tussen die twee partye is sekerlik die ‘een land, een toekoms’ van die DA teenoor die VF Plus se ‘Een Suid-Afrika waarin gemeenskappe groter selfbeskikking en beskerming van hulle identiteit het’.
Van 1982 af in die politiek
Sy politieke betrokkenheid strek terug tot 1982, toe hy as 23-jarige by die ontstaan van die Konserwatiewe Party in Pretoria betrokke geraak het.
In 1994 was hy betrokke by die stigting van die Vryheidsfront.
Hy het daarna ’n lang pad in plaaslike politiek gestap, onder meer as raadslid, burgemeester en onderburgemeester. Hy was vir 16 jaar ’n raadslid in Ermelo en het vir meer as ’n dekade op ’n uitvoerende komitee gedien.
Vir ’n tyd was hy die enigste nie-ANC-lid op dié komitee.
“Ek moes met die ANC saamwerk, want dit is wat die wet bepaal het.”
Vir hom is dit die kern van plaaslike regering: As jy mense wil dien, moet jy bereid wees om met mense saam te werk wat nie noodwendig jou politieke standpunte deel nie.
Dit is ook die beginsel waarmee hy nou sy volgende politieke hoofstuk aanpak.
‘Ek is steeds dieselfde mens’
Een van die vrae wat sedert sy politieke skuif telkens aan hom gevra word, is hoe hy van die VF Plus na die DA kon beweeg sonder om sy konserwatiewe en Christelike waardes prys te gee.
Sy antwoord is eenvoudig.
“Ek is niks anders as wat ek was voordat ek die VF Plus verlaat het nie.
“Ek is ’n Afrikaner en ek is ’n trotse Afrikaner. Ek is trots op my kultuur en my taal. Dit beteken nie ek misken ander mense se kultuur en taal nie. Inteendeel, ek het respek daarvoor. Ek is ook ’n Christen en trots daarop.”
Volgens hom is ’n politieke party ook nie ’n kerk nie. “Solank jy binne die party as individu jou Christelike waardes uitleef, kan jy dit doen.”
Hy sê dit was een van die kwessies waaroor hy vooraf met die DA se leierskap gepraat het.
Hy het twee voorwaardes gehad voordat hy bereid was om die skuif te maak: Dat hy sy Christelike waardes kan uitleef en dat hy as Afrikaner sy taal en kultuur kan behou.
Hy glo die DA bied genoeg ruimte daarvoor.
“Ek glo nog aan presies dieselfde waardes as wat ek geglo het toe ek nog deel van die VF Plus was.”
Hy ontken egter dat sy skuif na die DA ’n poging is om ’n posisie of politieke aanstelling te bekom.
Hy sê daar was geen belofte van ’n posisie of vergoeding nie.
“Die DA het my niks aangebied nie. Niks nie.”
Om ’n tafel met sy familie vergader
Theunissen het ook nie oornag besluit om by die DA aan te sluit nie. Daar was eintlik lankal ’n jeukerigheid tussen hulle.
Hy wil nie moddergooi nie, maar glo tog dat dit die VF Plus is wat sy vertrek uit die party in die openbare oog hou. “Almal sou al lankal daarvan vergeet het as hulle (die partyleiers) nie die ‘oorlopery’ in die media lewendig gehou het nie.”
Hy het, voordat hy die blou hemp oor sy kop getrek het, eers met sy familie vergader. “Ek neem nooit groot besluite sonder dat my drie kinders en my vrou, Sophia, in die saak geken word nie.”
Die Groenkloof-twis
Een van die kwessies wat volgens hom die verhouding met die VF Plus verder versuur het, was die omstredenheid rondom ‘n voorgestelde ontwikkeling in Groenkloof, Pretoria.
Hy sê dié ontwikkeling het reeds in 2024 begin, toe daar ’n raadsbesluit geneem is terwyl die DA en VF Plus deel van die regerende koalisie in Pretoria was.
Volgens hom is die verslag wat nou aan die raad voorgelê is, ’n voortsetting van daardie besluit.
“Daar was ’n persepsie dat dit gaan oor die bou van hoëdigtheid-laekostebehuising op die terrein. Maar dit was ’n ongemagtigde situasie waar die wyksraad dit as ’n potensiële ontwikkeling aan die gemeenskap kon voorstel.”
Hy sê een van die partylede het, sonder om eers die verslag te sien, ’n mediaverklaring uitgereik en ’n petisie van stapel gestuur.
Volgens hom was die verklaring en petisie gemik op hoëdigtheid-laekostebehuising vir 1 800 mense, terwyl dit nie met die inhoud van die verslag verband gehou het nie.
“Daar was ’n paneelondersoek en selfs in die paneel se eie verslag staan dat daar meriete in die inhoud van die verslag is.”
Hy glo die Groenkloof-kwessie was uiteindelik die laaste strooi wat hom laat besluit het om die party te verlaat.
“Ek het besluit die verhouding het so versuur dat daar nie meer vir my ruimte is nie. As die VF Plus besluit het hulle het nog nie aanbeweeg nie, is dit hulle probleem. Ek het klaar besluit. Ek beweeg aan.”
‘Ek wil Pretoria help omkeer’
Hy sê sy fokus is nou om ’n positiewe bydrae tot Pretoria te lewer.
“Ek wil iets begin wat ek wil voltooi. Ek wil die goeie werk wat ons gedoen het toe ons in die regerende koalisie saam met die DA was, voortsit.”
Sy doelwit, sê hy, is om te help om Pretoria weer ’n stad te maak waarop sy inwoners kan trots wees.
“Ek het bepaalde gedagtes oor wat ek nog wil doen en ek wil dit uitvoer. Ek sal saamwerk met wie ook al daardie gedagtes wil uitvoer.”
Hy sê hy is ook nie op pad na die parlement of provinsiale wetgewer nie.
“Ek stel nie belang om in die parlement te wees nie. Ek stel nie belang om in die provinsiale wetgewer te wees nie. My bydrae is hier in my gemeenskap.”
Hy sê daar is wel verskeie maniere waarop hy binne ’n plaaslike regering kan bydra, onder meer deur komiteewerk.
Hy sê hy sal homself eerder sien as iemand wat binne die DA kan help bou.
“Ek is daar om te bou. Ek is nie daar om te breek nie.”
Hy wil nou vorentoe beweeg en dit beteken nie noodwendig ’n belangriker politieke titel nie.
Dit beteken om die ervaring wat hy oor meer as 20 jaar opgebou het, op ’n plek te gebruik waar hy glo hy steeds ’n verskil kan maak.
- Die standpunte in hierdie berig is dié van die betrokke persoon en die partye wat hulle verteenwoordig en is nie noodwendig die standpunt van hierdie publikasie nie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za