Groot kommer oor verwoestende velbrande in Noordwes na boer sterf

‘n Landbou organisasie sê dat owerhede skroom om voorkomend en proaktief op te tree as dit kom by brandbestryding.

Agri Noordwes (NW) sê dat die onlangse dood van ‘n boer tydens ‘n veldbrand op sy plaas ‘n aanklag is teen owerhede wat boere in die steek laat as dit kom by die voorkoming of vinnige bevegting van veldbrande. Die organisasie is bekommerd oor die groot verliese wat gelei is na onlangse verwoestende veldbrande.

Henk Meyer (59) het verlede Saterdag in ‘n veldbrand gesterf nadat hy probeer het om voorbrande te maak om ‘n vuur in die omgewing van die Botsalano-wildreservaat by Mahikeng van sy plaas af te weer.

Hy en drie plaaswerkers is deur rook oorval en Meyer het in die vlamme gesterf. Die plaaswerkers het oorleef en is hospitaal toe vir behandeling.

Dieselfde uitdagings met elke brandseisoen

Naudé Pienaar waarnemende uitvoerende hoofbestuurder van Agri NW het in ‘n verklarging gesê dat boere jaar na jaar dieselfde uitdagings in die gesig staar.

“Die feit dat ons jaar na jaar gebuk gaan onder dieselfde probleme, meestal veroorsaak deur dieselfde oortreders of dieselfde nalatige optrede maak die skade nog meer frustrerend en onaanvaarbaar.”

Agri NW sê hulle het na ‘n verwoestende 2023 brandseisoen talle pogings aangewend om met die premier en relevante departementshoofde te vergader in ‘n poging om beter te beplan vir komende brandseisoene.

“Ons standpunt was dat daar seker gemaak moes word dat amptenare wat vir twaalf maande betaal word, [net] om beskikbaar te wees vir ‘n vier maande brand seisoen, gereed moet wees met bruikbare toerusting wanneer hulle benodig word,” het Pienaar gesê.

“Die huidige brandseisoen het egter ongelukkig bewys dat dieselfde gebrek aan begrip, onwilligheid, onvermoë, nie-voldoening aan wetgewing asook swak beplanning ons steeds nie in staat stel om van owerhede hulp te verwag om veldbrande te voorkom of vinniger te blus nie.

“Die afgelope naweek se verwoestende brande, waar ‘n boer op sy plaas aan sy brandwonde beswyk het, is ‘n skreiende aanklag teen die owerhede wat veronderstel is om voorkomende maatreëls te tref en moet toesien dat die nodige toerusting en opgeleide mannekrag ten alle tye beskikbaar is in tye van nood,” sê Pienaar.

Agri NW sê dat hulle weer na senior politieke leiers en ander sleutelfigure uitgereik het, en dat hulle ingestem het om reeds hierdie week te vergader.

Die organisasie sê dat hulle die Noordwes Brandbeskermingsvereniging en individue wat gehelp het om vure te veg wil bedank.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button