‘Hiert! Hier kom die baba!’: Seuntjie maak sy opwagting in Laeveldse parkeerterrein

Klein Anrich Josias Botha het geweier om vir die hospitaal te wag, en besluit om sy opwagting sommer in die parkeerterrein van ’n gewilde toeristesentrum in Witrivier te maak.

Die Botha-gesin, jarelange inwoners van Kiepersol, naby Hazyview in Mpumalanga, het onlangs hulle derde kind in die parkeerterrein van die Casterbridge Lifestyle Centre in Witrivier in die wêreld gebring.

Egpaar Adam en Landi Botha bestuur al vir jare hul landbouonderneming, Agritide, vanaf hul plaas in die Kiepersol-gebied.

Een oggend om 04:00 het Landi, toe 40 weke swanger, met ligte kontraksies wakker geword. Sy het Adam wakker gemaak dat hy solank moet voorberei. Adam het inderhaas gaan stort en sy stewels aangetrek, maar in dié tyd het die kontraksies al erger begin raak. Hier het Landi besef dat hulle nie die hospitaal sou haal nie.

Mareika, haar skoonsuster, is ontbied om te kom help, maar ondanks Adam en Mareika se beste pogings om Landi in die motor te kry, het sy geweier, omdat die baba reeds op pad was.

Adam Botha in die Casterbridge-parkeerterrein waar baba Anrich Josias Botha gebore is.

Teen 04:35 het Landi se kontraksies effens verlig, en het sy uiteindelik ingestem om agter in die Land Rover Discovery in te klim, op voorwaarde dat Mareika vir ondersteuning by haar sou sit.

Adam, vasberade om hulp te kry, het teen ‘n hoë spoed gery terwyl hy vroedvrou Rinie de Klerk van Homegrown Babies in Mbombela geskakel het. De Klerk het vinnig haar toerusting gegryp en gereël om hulle op pad te ontmoet.

Deur blote geluk het beide motors op dieselfde tyd by die parkeerterrein van Casterbridge Lifestyle Centre ingetrek. Adam het die kattebak oopgemaak, en De Klerk het bevestig wat Landi reeds geweet het – die baba kom nóú.

Gimnasiumgangers en vroeë pendelaars wat deur die parkeerterrein beweeg het, het begin saamdrom om hierdie unieke bevalling te aanskou.

Om 05:07 is klein Anrich Josias Botha in die agterkant van die Land Rover gebore, met ‘n gesonde gewig van 3,7 kg. Die baba was kalm en stil terwyl De Klerk hom ondersoek het om seker te maak alles is in orde.

Verlig en oorstelp van vreugde het die gesin besluit om die hospitaal heeltemal oor te slaan en reguit terug te gaan huis toe, om die nuweling daar te gaan tuis maak.

Later het Mareika grappenderwys gesê hulle moet die baba ‘Picasso’ noem in ruil vir ‘n paar margaritas van die gewilde eetplek met dieselfde naam, terwyl van hul vriende gespot het dat hulle ook sou gejaag het as hulle in ‘n Land Rover was.

Die Botha-gesin het hulle dankbaarheid aan almal wat gehelp het betuig.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Back to top button