‘Hou jou privaatdele privaat’: Mbombela-winkelsentrum se kleredragreëls laat tonge klap

’n Kennisgewing oor “gepaste kleredrag” by ‘n winkelsentrum in Mbombela het groot aanlynreaksie ontlok.

“Hou jou privaatdele privaat.”

Dít is die kort en die lank van ’n kennisgewing oor gepaste kleredrag by Sonpark Boulevard in Mbombela, en dit laat nou behoorlik die tonge klap.

Die nuwe gedragskode, wat soos ’n modegids vir moraliteit by restaurante se ingange pryk, wys foto’s van wat jy mag en nie mag dra nie.

Dink groen regmerkies vir denims en wit bloese, en rooi kruisies vir kort bloese, kort rompe, deursigtige materiale en klere wat onderklere wys.

Die boodskap is duidelik: as jy te veel wys, wys hulle jou die deur.

Dié kennisgewing, wat op 25 September aangebring is, is afgeneem, op sosiale media gedeel en het die afgelope paar dae groot reaksie ontlok.

Dit blyk egter misleidend te wees. Die meeste aanlynplasings wys slegs die boonste helfte van die plakkaat, wat op vrouedrag fokus.

Die oorspronklike kennisgewing. Foto: Gia Radnai

Laevelder het die kennisgewing van nader ondersoek en vasgestel dat dit ook riglyne vir mans bevat – insluitend visuele voorbeelde van gepaste en onvanpaste klere.

Sonpark se “stylpolisie” is dus nie geslagspesifiek nie, soos aanlyn beweer word.

Die kennisgewing volg ná ’n voorval waarin twee studente gevra is om een van die betrokke instansies te verlaat weens hul sogenaamde onvanpaste uitrustings.

“Ons is jonk en kan dra wat ons wil, wanneer ons wil. Waarom is hulle so bekommerd oor wat ons aantrek as ons net ’n goeie tyd wil hê?” het een student gesê.

Maar Kobus Jacobs, die eienaar, staan vas in sy besluit.

“Hierdie is ’n winkelsentrum, nie ’n nagklub nie,” het hy aan Laevelder gesê.

“Ons wil hê ouers moet gemaklik voel om hul kinders hierheen te bring – sonder om bekommerd te wees oor wie se naaldwerk misluk het.”

Die gedragskode lui dat:

  • Om ’n respekvolle, gesinsvriendelike omgewing te handhaaf, word van besoekers verwag om te alle tye gepas geklee te wees.
  • Geen onthullende of onwelvoeglike klere word toegelaat nie. Dit sluit onder meer in: oormatig kort bloese, rompe of kortbroeke; deursigtige materiale; klere wat onderklere blootstel; of enige uitrusting wat as oormatig uitlokkend beskou kan word.
  • Hemde/bloese en skoene moet in alle openbare areas gedra word.
  • Klere met aanstootlike, onwelvoeglike of haatlike bewoording/beelde word nie toegelaat nie.
  • Om veiligheidsredes word geen gesigbedekkings, valhelms of kappies wat ’n persoon se identiteit verberg, toegelaat nie – behalwe in die geval van godsdienstige hoofbedekkings.

Jacobs sê die sentrum wil ’n standaard handhaaf.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button