Innibos vier 21ste bestaansjaar: Laeveldse lekkerte teen verlede jaar se pryse
Skud jou feesvere uit, want dis amper weer tyd vir die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees en al sy ‘lekkerness’.
Innibos vier vanjaar sy 21ste bestaansjaar en as geskenk aan feesgangers word feesterreinkaartjies teen dieselfde prys as verlede jaar verkoop.
Maak reg vir ’n Innibos-fees só lekker, selfs jou groottoon gaan ’n sokkie wil gooi! Innibos 2025 is hier om jou te laat bons, skreeu, skater en saam sing tot jou stembande ingee.
Met ’n program propvol talent, energieke optredes en verrassings, is hierdie ’n onmisbare geleentheid vir elke feesganger.
Innibos se 21ste bestaansjaar is ’n belangrike mylpaal vir een van Suid-Afrika se mees geliefde kunstefeeste. Daarbenewens word die eeufees van die Afrikaanse taal gevier, wat hierdie jaar se fees selfs meer betekenisvol maak.
“Die viering van Afrikaans en die ongelooflike talent in ons musiekbedryf maak hierdie jaar se Innibos uiters spesiaal,” sê Sandra Jacobs, die direkteur van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees.
Ikoon van Afrikaanse musiek word vereer
“Ons vereer ook ’n ware ikoon van Afrikaanse musiek: Kurt Darren, vir sy groot impak op die musiekbedryf. En vir dié klomp redes gaan Innibos jou stukkend bederf: ons hou die kaartjiepryse presies dieselfde as verlede jaar,” sê sy. Dis reg, geen verhogings, geen ekstra sente tel, net lekkerte!

Feesgangers word vanaf Donderdag, 3 Julie, vir die Huisgenoot Afskopkonsert uitgenooi. Hierdie skouspelagtige opening bring ’n indrukwekkende lys van kunstenaars na die verhoog, insluitend Appel, Chris Steyn, Droomsindroom, Eloff, Francois van Coke, Jay, Karlien van Jaarsveld en Lianie May.
Dié konsert begin om 18:00 en kaartjies kos R210 per persoon.
Die verhoog sal op Vrydag, 4 Julie, tydens die Jacaranda FM-konsert skitter met optredes deur, onder andere, Bernice West, Bok van Blerk, Danny Smoke, Die Heuwels Fantasties, Martin Bester, Robbie Wessels en Ruhan du Toit. Volgens Jacobs beloof hierdie konsert, wat om 18:00 begin, ’n ongeëwenaarde musiekervaring te wees. Kaartjies beloop R260 per persoon.
Lees ook: Innibos wen fees van die jaar vir die vierde keer
Indien feesgangers teen daardie tyd nog nie hul dansskoene deurgedans het nie, kan hulle dit Saterdag, 5 Julie, uitkap by die kykNET Konsert. Hier sal die klanke van Corlea Botha, Demi Lee Moore, Die Piesangskille, Early B, Elvis Blue, Jo Black, Kurt Darren, Refentse, Ricus Nel, Snotkop, Van Pletzen en Zaan Sonnekus die gehoor betower.
En omdat ons weet kultuur lê nie net in ons musiek nie, maar ook in die groen en goud, kan feesgangers die Springbokke se wedstryd teen Italië regstreeks op die groot skerm op die hoofverhoog kom kyk! Na afloop van die rugby begin die konsert om 19:00. Toegang vir al hierdie vermaak beloop slegs R310. Dis ’n ware winskoop vir soveel lekkerte!
In lyn met die feesvieringe kan feesgangers hier ook dalk ’n paar verrassings verwag.
Jacobs sê ten spyte van verhoogde koste bly Innibos toegewyd daaraan om toegang bekostigbaar te hou. Weekkaartjies is teen slegs R660 elk beskikbaar. Senior burgers bo 60 betaal R160 per dag en kinders onder 12 kry gratis toegang. Parkering beloop R200 per dag, en groepe van 21 of meer kry gratis busparkering.
“Bespreekte sitplekke en kuiertafels reg teen die verhoog is ’n groot hoogtepunt wat ’n ongeëwenaarde ervaring verseker,” sê sy. Kuiertafels vir ses mense is beskikbaar teen R660 op Donderdag, R960 op Vrydag en R1 260 op Saterdag (hektoegang uitgesluit). Bespreekte sitplekke kos R110 op Donderdag, R150 op Vrydag en R210 op Saterdag.
Kaartjies is vanaf Vrydag 28 Februarie op Ticketpro beskikbaar. Tjirp-nuusbrieflesers kry vroeë toegang tot kaartjies en kuiertafels vanaf 26 Februarie.
Innibos 2025 strek verder as net ‘n musiekfees. Besoek innibos.co.za om die fees in sy volle glorie te sien ontvou.
Read original story on www.citizen.co.za