Jong seun kry swaar vonnis ná Deveney Nel-moord

'n Seun (17) is hewig gevonnis nadat hy die moord op 'n graad 10-leerder, asook die poging om haar liggaam te versteek, erken het.

‘n Minderjarige seun wat aangekla is van die moord op ’n leerder van Overberg Hoërskool in Caledon, is gister in die Wes-Kaapse Hooggeregshof tot effektief 25 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Volgens Suid-Kaap Forum het die jong oortreder van Grabouw, wat 17 jaar oud was tydens die moord, die graad 10-leerder Deveney Nel (16) in Augustus 2024 vermoor. 

Haar liggaam is ná ’n soektog van ’n paar uur in ’n stoorkamer by die skool gevind.

Volgens Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het die beskuldigde, deur sy prokureur, die staat genader met die oog op ’n pleitooreenkoms oor die straf.

“Hy het die moord op Nel erken, asook die poging om haar liggaam te versteek. Hy is tot 25 jaar direkte gevangenisstraf vir die moord en 12 maande direkte gevangenisstraf vir die poging om die regsproses te dwarsboom,” het Ntabazalila gesê.

Die vonnis word beskou as ’n eerste in Suid-Afrika se regsgeskiedenis, waar ’n minderjarige oortreder só swaar gestraf is.

Weens die wet mag die seun, wie minderjarig was ten tye van die moord, se identiteit nie bekendgemaak word nie.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.suidkaapforum.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Clive Pretorius

Hierdie berig is deur 'n joernalis van Suid-Kaap Forum geskryf.
Back to top button