Kyk: Inwoners vertel van aangrypende tonele by walvis en kalf se reddingspoging in Hartenbos
Inwoners het alles in hulle vermoë gedoen om 'n snawelwalvis en haar kalf te probeer help om terug in die water te kom.
Aangrypende tonele het gistermiddag op Hartenbos se strand afgespeel toe inwoners hande gevat het in ‘n spanpoging om ‘n snawelwalvis en haar kalf wat uitgespoel het, weer terug in die water te kry.
‘n Nuwe intrekker op Mosselbaai, Janine Jackson, was een van die eerste mense op die toneel. Sy het onlangs van Langebaan na Mosselbaai verhuis.
“Ek en my vriendin het dit gesien en het aanvanklik gedink dit is ‘n dolfyn wat uitgespoel het.”

Jackson het dadelik op die Facebook-groep, Mosselbaai op sy beste, ‘n boodskap gestuur met ‘n foto van die walvis waarin sy vra dat iemand dringend vir haar ‘n nommer stuur sodat sy hulp kan ontbied.
“Die reaksie was oorweldigend en voor ek my oë kon uitvee was daar ‘n klomp inwoners op die strand.”
Die Nasionale Seereddingsinstituut van Suid-Afrika en lede van S.M.A.R.T, ‘n organisasie van Mosselbaai wat hom vir die redding en bewaring van seediere beywer, was spoedig op die toneel.
Jackson sê dit was ongelooflik om te sien hoe almal ‘n hand bysit om die diere te probeer red.
Mosselbaaier Christiaan Stopfort was ook daar.
Hy sê: “Almal het ingespring om te help. Ons het ons beste gedoen vir bykans twee ure. Ons kon ‘n paar keer daarin slaag om die walvisse heuphoogte terug in die water te kry en hulle het elke keer verder geswem, maar ongelukkig elke keer weer uitgekom. Na ‘n ruk het kenners gesê die diere moet ongelukkig van kant gemaak word.”
Video verskaf deur Janine Jackson:
Volgens Stopforth was almal baie hartseer toe dit duidelik word dat die walvisse ‘n tragiese einde gaan hê.
“Dit was steeds ‘n wonderlike ervaring om te sien hoe almal, oud en jonk saam kon werk in ‘n poging om die diere te red.”
Die oorsaak van die voorval is nog nie bekend nie en daar sal na verwagting monsters van die walvisse geneem word om te probeer help bepaal waarom hulle uitgespoel het.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com