Kyk: ‘Vlak graf’ laat vrae ontstaan ná noodlottige skietvoorval in George
’n Skietvoorval laat familie en bure wonder oor ’n sogenaamde 'vlak graf' wat glo deur die oorledene, wie glo deur polisie doodgeskiet is, gegrawe is.
“Ek het net een skoot gehoor.” So vertel ’n geskokte Ejustley Boshoff, niggie van die oorledene, Grifford Figland (38), tydens ’n besoek aan die plek waar haar neef sy laaste oomblikke beleef het.
George Herald berig Boshoff woon oorkant die plek waar haar neef vroeg Woensdagoggend doodgeskiet is. Die gebeure is steeds onduidelik en die familie en vriende wat in die omgewing woon het baie vrae.
Volgens Boshoff het ’n ooggetuie, wat die toneel sien afspeel het, beweer dat hy wel Figland en ’n ander man sien handgemeen raak, waarna ’n polisievoertuig kort daarna op die toneel aangekom het.
Die skoot is glo kort daarna afgevuur.
Ondersoek geloods
Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het bevestig dat hulle ‘n saak van moord ondersoek ná die noodlottige skietery, omdat polisielede glo betrokke is.
Volgens hulle is Figland ongeveer 01:00 doodgeskiet, glo deur polisielede in Georgestraat in Blanco.
Figland het na bewering die slagoffer, wat op pad huis toe was, naby ‘n bushalte gekonfronteer. Daar word verder beweer dat Figland die beamptes met die graaf aangeval het toe hulle op die toneel aankom, wat hulle laat skiet het. Hy is op die toneel dood.
Die slagoffer het kopbeserings opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.
Volgens polisie het ‘n konstabel wat by die voorval betrokke was, ook ‘n skietwond (aan sy been) opgedoen nadat ‘n skoot afgegaan het tydens ‘n struweling met Figland, wat na bewering probeer het om sy vuurwapen te steel. Die konstabel herstel in die hospitaal.
‘Hy was nie lief vir geweld nie’
Met ’n ter plaatse besoek gisteroggend, het talle aan George Herald gesê dat hulle nie verstaan hoekom dit gebeur het nie.
Figland word beskryf as ’n vredeliewende man wat eerder anderpad gekyk het as iemand hom sleg hanteer. “Hy was nie lief vir geweld nie,” het almal beaam.
Kyk: Boshoff praat oor die gebeure:
Boshoff verduidelik dat haar neef so tussen haar huis en sy ouma se huis geslaap het, en dat hy vrylik kon kom en gaan soos hy wil. “Ek het ’n geklop gehoor so 00:20 [Woensdagoggend] en gedink dis seker Grifford,” vertel Boshoff.
“Net Grifford sou in my [erf] kon kom, want ek het honde. Ek het sowat ‘n uur later ’n skoot hoor afgaan. Net een skoot. Toe staan ek maar op en gaan kyk, want ek was bang dis dalk die sekuriteitsbeamptes wat dink Grifford breek in. Dis toe dat ek sien my deur staan oop.”
Volgens Boshoff was dit duidelik dat Figland probeer het om ’n gat te grawe, wat baie lyk soos ’n vlak graf. Dit is met ’n graaf gedoen wat hy by haar huis gekry het. Die graaf is intussen deur die polisie as bewysstuk gehou. Almal is oorbluf oor die ‘vlak graf’ en verstaan glad nie hoekom Figland dit sou wou grawe nie.
“Sowat drie jaar gelede is Grifford deur ’n Go George-bus raakgery. Hy het steeds rugpyn na daardie ongeluk,” sê Boshoff.
“Hy was nie fisies ’n baie sterk persoon nie. Ek kan nie dink dat hy soveel energie sou hê om die gat te grawe en mense nog met ’n graaf ook aan te val nie. Hy het wel, soos baie ander, dwelms van tyd tot tyd gebruik, maar hy was ’n goeie ou.
“Ek verstaan ook nie hoekom daar nie ’n waarskuwingskoot was nie, of hoekom hy nie eerder in die been geskiet is nie. Dit maak nie sin nie. Hy het baie respek gehad vir die een polisieman wat hier betrokke was. Hy het hom soortvan as ’n held vereer.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.georgeherald.com