Kyk: Voetgangers in Oos-Kaap vermy dood met breukdeel van sekonde

Videomateriaal wys hoe 'n man met 'n gesteelde voertuig van sekerheidspersoneel wegjaag en byna tieners in Cradock tref.

Vier voetgangers het Sondagmiddag om 13:27 die dood rakelings vrygespring – letterlik – toe die bestuurder van ‘n gesteelde voertuig tydens ‘n jaagtog in Cradock in die Oos-Kaap beheer verloor het en in Metcalfstraat op hulle afgepyl het.

Die vier tieners het met ‘n breukdeel van ‘n sekonde daarin geslaag om uit die pad van die Mercedes Benz te kom, wat op die presiese plek op die sypaadjie waar die groepie gestap het omgeslaan en gerol het.

‘n Video van die noue ontkoming is vasgelê deur ‘n sekerheidskamera en word wyd en syd op sosiale media gedeel.

Dié Mercedes Benz ML 2017-model is Sondagoggend in George in die Wes-Kaap gesteel, en nie ‘n maand gelede soos vroeër berig nie.

Die bestuurder van die gesteelde Mercedes Benz ML 2017 is glo ongedeerd en het reeds in die hof veskyn.

Die eienaar van Outeniqua Motors in George, Brett Stander, het onmiddellik die diefstal by die polisie in George rapporteer na die voertuig vroegoggend by sy besigheidsperseel gesteel is.

Die Mercedes is later deur ‘n kamera van die National Vehicle Intelligence Cloud in Graaff-Reinet bespeur en toe weer in Cradock. ‘n Privaat sekerheidsmaatskappy, CDK Sekuriteit, en die Cradock-polisie het toe die voertuig agterna gesit en ‘n hoëspoed jaagtog het gevolg.

Die bestuurder, ‘n 45-jarige man, is glo ongedeerd en het Maandag in die Cradock-landdroshof verskyn.

Read original story on www.graaffreinetadvertiser.com

 
Back to top button