Lodge waar Willem Kruger sterf weer in kollig ná dood van eienaar se dogter
Henbase Lodge, waar Willem Kruger se liggaam in 2023 gevind is, is weer in die kollig ná die dood van die eienaar se dogter, Jeanine van Eck.
Ongeveer twee jaar nadat Willem Kruger se liggaam in sy bakkie in November 2023 by die Henbase Lodge tussen Morgenzon en Amersfoort uit die Vaalrivier gesleep is, is dié lodge se eienaarspaar Johan en Ansie Claassen se dogter, Jeanine van Eck, dood in haar pa se bakkie op die lodge gevind.
Middelburg Observer berig dit is tans nog onduidelik wat vir haar skielike afsterwe verantwoordelik was.
Medelye stroom sedert gisteraand op sosiale media vir die egpaar en hulle familie in, met Morgenzon Landbou Akademie, waar Jeanine self skool gegaan en ook onderwyseres was, wat onder meer hulde aan die ontslape Van Eck gebring het.
Die skool het sy innige meegevoel aan haar ouers betuig in ’n hartroerende plasing op Facebook.

Willem Kruger se verdwyning
Henbase Lodge was sedert die verdwyning van Willem Kruger, tydens rampartyvieringe in November 2023, gereeld in die nuus.
Landswye gebedskettings is na Kruger se verdwyning op 13 November by die lodge begin, ná hy en sy bakkie die nag van die rampartytjie spoorloos verdwyn het.
Middelburg Observer het op 22 November 2023 berig dat Kruger se liggaam in sy bakkie gevind is, nadat hy vermoedelik per ongeluk die rivier ingery het digby ’n brug op die plaas.
Die bakkie is onder ’n wilgerboom in die Vaalrivier gevind, waar vroeëre soektogte niks opgelewer het nie. Die bakkie is met ’n trekker uitgesleep.
Daar is berig dat Kruger se GPS in sy bakkie glo gewys het dat hy die water ingery het.
Van Eck se dood
’n Hartgebroke Johan wou nie met Middelburg Observer gesels oor sy dogter se dood nie.
Hy het wel gesê dat sekere mense altyd die ‘lelike sal soek en vind’ in verwysing na die fel kritiek waaronder die Claassens ná Kruger se dood deurgeloop het.
Johan het bygelas: “My kind is dood, punt. Ek is dankbaar vir die tyd wat sy vir ons gegun was.”
Netwerk24 het intussen berig dat Van Eck kort voordat sy in haar pa se bakkie gevind is, vir hom ’n baadjie gevat het.
Daar word berig sy was midde in ’n egskeiding, maar het geen gesondheidsprobleme gehad nie.
Sy laat haar vyfjarige seuntjie en driejarige dogtertjie agter en die kinders is tans by haar ouers, waar Van Eck uitgehelp het met die lodge en boerdery.
Volgens Netwerk24 word daar tans nog op ’n patologieverslag gewag rakende die oorsaak van haar dood.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za