Luister: Skote klap terwyl Fochville-boer vir aanvallers vlug

In 'n angswekkende stemboodskap kan Frans de Bruyn se noodkreet op 'n plaaslike GPF-groep gehoor word toe hy hulp ontbied het toe rowers hom oorval het.

‘n Boer het Woensdagaand benoude oomblikke beleef toe rowers hom op sy plaas probeer aanval het.

Frans de Bruyn was net voor 23:00 op sy plaas tussen Fochville en Westonaria toe hy iemand by sy beeskraal hoor.

Hy het ondersoek gaan instel en hom in ‘n groep rowers vasgeloop.

De Bruyn kon gelukkig daarin slaag om te ontsnap en het dadelik om hulp van die GPF en ander groepe gevra.

“Kom help my… Frans de Bruyn, ek word aangeval. Kom help my,” was De Bruyn se eerste hulproep. Skote kon duidelik in die agtergrond gehoor word.

“Ek dink hulle het my beeste gevat. Hulle het my daar onder by die beeste gecorner,” het hy later uit sy huis uit laat weet.

Ander boere, GPF-lede asook polisielede het na De Bruyn se plaas gejaag om hom te gaan help.

Van die mense wat hom te hulp gesnel het, het op 57 van sy beeste afgekom waar hulle in die pad naby ‘n myn gehardloop het. Die verskrikte diere is teruggejaag plaas toe. Al De Bruyn se beeste is teruggevind.

“Hulle teister die boere in ons omgewing nou al die afgelope maand. Ek is baie bly ons kon my beeste terugkry,” het ‘n baie verligte De Bruyn aan Fochville Herald gesê.

Nog ‘n voorval

‘n Paar kilometer van De Bruyn se plaas – op die R559 tussen Randfontein en Carletonville – het nog ‘n aanval ure voor die van De Bruyn plaasgevind.

Randfontein Herald berig ses gewapende rowers het eers ‘n veewagter aangerand voordat hulle waardevolle besittings van hom en sy vrou geneem het. Die rowers het toe 150 beeste gesteel.

Hierdie insident het ongeveer 19:15 gebeur en Chris Lessing, die eienaar van Tac-Med Crime Prevention Unit in die Wesrand, het aan die koerant vertel dat die rowers honde gehad het wat hulle gehelp het om die beeste in die rigting van die R559 te jaag.

“Nadat die lede daarin geslaag het om ‘n paar van die beeste te vind, het hulle besluit om dieper in die bos in te beweeg om die oorblywende beeste te vind. Al die beeste is [na ‘n ruk] terug na die perseel gelei.”

Hy waarsku dat vee gesteel word om vir kontant verruil te word of om die vleis teen goedkoper as die norm te verkoop.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button