Lydenburgse pa deel hartroerende boodskap ná boelie sy dogter glo teiken

Die 10-jarige Mianay Sinden moes Donderdag 'n noodoperasie ondergaan nadat haar gewrig tydens 'n beweerde bullebakkery gebreek is.

‘n Geboelie en ‘n leerling wat glo met opset by Laerskool Lydenburg laat struikel is, het sosiale media in rep en roer.

Die 10-jarige Mianay Sinden, ‘n gr. 5-leerling, het ligte harsingskudding en ’n erg gebreekte gewrig opgedoen toe sy teen ’n stel trappe geval het.

“Die voorval het Woensdag tydens klaswisseling plaasgevind,” sê Gerhard, haar pa. “Mianay het vinnig geloop om by die volgende klas te kom toe sy deur ’n leerder, wat saam met ander in ’n gang gestaan het, gepooitjie is.”

Sy het geval en haar boeksak het oor haar gevlieg, wat veroorsaak het dat sy haar kop teen die trappe stamp.

“Sy het met haar linkerhand probeer keer, maar het in die proses haar gewrig gebreek,” sê Gerhard.

Ná die voorval was sy baie verward en is deur ’n onderwyser na die skool se siekeboeg geneem.

“Behalwe vir die pyn is my kind geweldig ontsteld en voel sy vernederd omdat die ander kinders vir haar gelag het. Sy sê reeds dat sy daarna opsien om weer skool toe te gaan.”

Mianay het Donderdag ‘n noodoperasie ondergaan toe haar gewrigsbene met onder meer ‘n plaat geheg is, en is Vrydagoggend ontslaan.

Mianay Sinden. Foto: Verskaf/Gerhard Sinden

 

“Dit gaan baie beter met haar. Sy het vir fisio gegaan en nou is dit die lang pad na herstel,” sê Gerhard. Hy noem hy is geensins kwaad vir die skool of die sondebok nie. “Ek wil net hê ouers en skole moet meer gewag maak om die gevare van boelie en pooitjie aan hulle kinders uit te wys.”

Gerhard se plasing op Facebook het binne ure massiewe reaksie ontlok. Die plasing is reeds meer as 12 000 keer gedeel, het 2 500 reaksies gekry en bykans 1 000 kommentare ontlok.

Klik op die skakel om die plasing op Facebook te sien: https://t.ly/eXHpp

‘n Skermgreep van die Facebook-plasing. Foto: Facebook

Annalize Cross, persoonlike assistent van die skoolhoof, het by navraag gesê die skool sal later kommentaar lewer.

Laeveld Media vergader Maandag met die skool.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button