Ma, drie seuns in Benoni-hof in verband met Vereeniging-man se moord

Grafiese inhoud waarskuwing: 'n Herrie oor harde musiek het glo tot 'n argument gelei wat in die dood van Ben Lotz geëindig het.

‘n Ma het saam met haar drie seuns in die beskuldigdebank ingeskuif toe die familie Maandag in die rondgaande hooggeregshof in Benoni verskyn het vir die moord op Ben Lotz, ‘n inwoner van Leeuhof in Vereeniging.

Lindi Falch (44) staan nou ook saam met haar seuns, Raymond (21), Shane (24) en Simon Anton (18) en hul vriend Estafaan Christiaan Delport (20) tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, opsetlike saakbeskadiging en oortreding van die dierebeskermingswet.

Al die verdagtes is tans uit op borg.

Lindi Falch (44), ma van die Mentz-broers, is nou ook ‘n beskuldigde in die saak. Foto: Christiaan Cloete

Wat op die aand van 22 November 2021 glo as ‘n stryery tussen Lotz en die Mentz-broers van Leeuhof oor harde musiek begin het, het later in ‘n bloedbad ontaard.

Lotz se lewelose liggaam is later die aand by sy woning aangetref nadat hy met die jonger mans daar baklei het.

Volgens die klagstaat het die beskuldigdes op die betrokke aand Lotz se staalhek beskadig en sodoende toegang tot sy eiendom verkry.

Twee van Lotz se honde is met ‘n mes doodgesteek en Lotz het later aan sy beserings beswyk nadat hy ook aangeval is.

Die polisie het in 2021, in ‘n verklaring wat na die voorval uitgereik is, gesê dat die stryery tussen Lotz en die jonger mans glo weens harde musiek ontstaan het.

Ben Lotz se vrou by die huis waar Lotz vermoor is. Foto: Christiaan Cloete.

Falch, wat in daardie stadium nog nie ‘n verdagte in die saak was nie, het aan Vaalweekblad vertel dat Lotz die jonger mans met ‘n panga aangeval het.

Blykbaar het die Mentz-broers en hul vriend toe vir Lotz by sy huis gaan konfronteer.

Regter Portia Phahlane het die saak tot November uitgestel.

Die verhoor is uitgesit vir ‘n tydperk van twee weke (6–17 November).

Ben Lotz wat vermoor is. Foto: Verskaf

‘n Lasbrief wat vroeër vir Delport se inhegtenisname uitgereik is omdat hy nie in die hof verskyn het nie, is Maandag teruggetrek nadat sy afwesigheid blykbaar weens ‘n misverstand was.

Delport het blykbaar intussen verhuis.

‘n Uitstaande DNS-verslag het hofverrigtinge verlede week vertraag en daar word steeds vir die uitslag van die polisie se forensiese laboratorium gewag.

Jaco van Heerden tree namens Falch en haar drie seuns op. Martin Botha tree namens Delport op en Eric Sishlangu is die staatsaanklaer.

Ben Lotz is dood op die vloer van sy huis aangetref. Foto: Verskaf.
Een van Lotz se twee honde wat tydens die aanval doodgesteek is. Foto: Christiaan Cloete.

Read original story on vaalweekblad.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button