Man bevry ná twee ure onder trekker se wrak op Longtompas in Mpumalanga

'n Man is uiteindelik met hidrouliese domkragte van onder sy trekker gelig nadat hy vir meer as twee uur vasgekeer was.

Brian Whitehorn (83), oftewel ‘oom Brian’ van die plaas Paardeplaats op die Longtompas, het tydens ’n roetine-rit met sy trekker van ’n wal afgestort. Hy was vir meer as twee ure onder die wrak van die Landini-trekker, wat ongeveer 1 600kg weeg, vasgepen.

Die omvang van sy beserings was in daardie stadium onbekend.

Volgens sy vrou Gerda het nabye boere, lede van die gemeenskap, insluitend pastoor André Hanekom, dominees Antionette en Fred Wilson, en Jakkie Mellet van Potato Seed Production, dadelik die Whitehorns te hulp gesnel nadat hulle ingelig is van die ongeluk.

Intussen is paramedici van Netcare 911 ook na die plaas ontbied.

Whitehorn is uiteindelik, na meer as twee ure onder die trekker, deur hidroliese krukke onder uit die wrak gelig en per ambulans na Mediclinic in Mbombela gehaas.

Volgens Gerda het Whitehorn slegs ’n gebreekte sleutelbeen en kneusplekke opgedoen. “Die ortopeed sal vandag [Donderdag] laat weet of daar geopereer moet word. Volgens skanderings is daar geen aarskade (arterial damage) of ander beserings opgedoen nie.”

Brian Whitehorn was vir meer as twee ure onder sy trekker vasgepen.

Whitehorn is in ’n bestendige toestand en was heeltyd by sy bewussyn tydens die reddingsoperasie.

Gerda spreek haar dank teenoor die gemeenskap uit vir die hulp, gebede en ondersteuning tydens en na die ongeluk.

Die egpaar bly al sedert 1979 op dié plaas en is geliefd en bekend in die gemeenskap.

Op die toneel, het Mellet, wat kom hand bysit het tydens die ongeluk, skertsig vir Brian gevra: “Nou ja, oom Brian, noudat almal hier is, sê asseblief vir ons wat de f@k het jy gemaak!”

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Back to top button