News

“Oom Brian” bevry na twee ure onder trekker se wrak

Brian Whitehorn is, na meer as twee ure, deur hidroliese krukke onder die wrak uit gelig.

’n Fratsongeluk het Woensdag tot ’n reddingspoging van meer as twee ure gelei.

Brian Whitehorn (83), oftewel “oom Brian” van die plaas Paardeplaats op die Longtompas, het tydens ’n roetine rit met sy trekker van ’n wal afgestort. Hy was vir meer as twee ure onder die wrak van die Landini trekker, wat ongeveer 1 600 kg weeg, vasgepen.

Die omvang van sy beserings was in daardie stadium onbekend.

Volgens sy vrou Gerda het nabye boere, lede van die gemeenskap, insluitend pastoor André Hanekom, dominees Antionette en Fred Wilson, en Jakkie Mellet van Potato Seed Production, dadelik die Whitehorns te hulp gesnel na hulle ingelig is van die ongeluk.

Intussen is paramedici van Netcare 911 ook na die plaas ontbied.

Brian is uiteindelik, na meer as twee ure onder die trekker, deur hidroliese krukke onder uit die wrak gelig en per ambulans na Mediclinic in Mbombela gehaas.

Volgens Gerda het Brian slegs ’n gebreekte sleutelbeen en kneusplekke opgedoen. “Die ortopeed sal vandag [Donderdag] laat weet of daar geopereer moet word. Volgens skanderings is daar geen aarskade (arterial damage) of ander beserings opgedoen nie.”

Brian is in ’n bestendige toestand en was heeltyd by sy bewussyn tydens die reddingsoperasie.

Brian Whitehorn was vir meer as twee ure onder sy trekker vasgepen.

Gerda wil graag haar dank teenoor die gemeenskap uitspreek vir almal se hulp, gebede en ondersteuning tydens en na die ongeluk.

Die egpaar bly al sedert 1979 op dié plaas en is geliefd en bekend in die gemeenskap.

Op die toneel, het Mellet, wat kom hand bysit het tydens die ongeluk, skertsig vir Brian gevra: “Nou ja, oom Brian, noudat almal hier is, sê asseblief vir ons wat de f@k het jy gemaak!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button