Marloth Park: ‘n Bom wat wag om te bars

Verskeie rolspelers is van mening dat wilduitdunning die enigste manier is om 'n krisis hok te slaan, maar tans sloer die Nkomazi Plaaslike Owerheid om goedkeuring daarvoor te gee.

Meer as 210 stuks wild, waarvan sowat 170 waarskynlik van die honger dood is, is die skoksyfers wat onlangs aan die lig gekom het. Dis glo na aanleiding van die aantal karkasse wat die afgelope twee en ‘n half maande uit Marloth Park, ‘n vakansiedorp aangresend aan die Kruger-wildtuin, verwyder moes word.

Laevelder het in Februarie berig oor die kommer wat daar onder natuurkundiges en inwoners heers oor die drastiese tekort aan weiding in die park. Deidre Joubert van Wild and Free Wildlife Rehabilitation (WFWR) het tóé al gewaarsku dat ‘n slagting onder die wildlewe gedurende die wintermaande verwag word.

Die groot getal wild is veral ‘n gevolg daarvan dat daar die afgelope jare geen uitdunning van diere toegelaat is nie. In April is 105 karkasse verwyder, in Mei 71 en in Junie, tot dusver, nagenoeg 30. Rooibokke vorm die grootste deel hiervan.

Lees ook: Marloth Park moet moontlik dierebevolking uitdun om ekologiese ramp vry te spring

Hierdie getalle sluit diere in wat as gevolg van ernstige beserings en dié wat so verswak het van honger, dat hulle van kant gemaak moes word, in. Jare gelede is uitdunning wel gedoen om aanwas te beheer, maar ‘n hofinterdik wat die Marloth Park Ratepayers Association (MPRA) bekom het, het ‘n stokkie hiervoor gesteek.

Cindy Benson, die voorsitter van die MPRA, het vroeër gesê die interdik was op hulle besware oor die wyse waarop diere in die beboude dele en tussen huise geskiet is, gegrond.

Hulle, net soos WFWR, is dit eens dat die enigste manier om die oorbeweidingskrisis hok te slaan, is om dringend wild uit te dun.

“Ons het niks teen uitdunning nie, maar is nie te vinde vir die manier waarop dit gedoen word nie.” MPRA se voorstel is dat diere in bomas gevang word, na Lionspruit aangrensend tot Marloth Park verskuif word en daar uitgedun word.

Hulle het selfs aangebied om die koste van die verskuiwing te befonds.

Op hierdie stadium is die Nkomazi Plaaslike Owerheid glo die stok in die speke van die uitdunningsprojek.

Ten spyte daarvan dat daar onlangs tydens ‘n vergadering tussen die belanghebbendes in die park en die munisipaliteit ooreengekom is dat uitdunning in Junie sou begin, sloer die raad steeds om die groenlig te gee.

Verskeie navrae aan Cyril Rapinga, die woordvoerder van die raad het onbeantwoord gebly.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button